YouVersion Logo
Search Icon

Hoop op HomSample

Hoop op Hom

DAY 3 OF 5

VERTROU GOD OM JOU STEWIG TE LAAT STAAN

Wanneer teëspoed kom soos ’n stormwind, is goddeloses daarmee heen, maar die regverdiges bly stewig staan. (Spreuke 10:25)

Gaan jy tans deur ’n storm? Dit kan dalk finansiële probleme wees, siekte, depressie, huweliksprobleme of selfs konflik met jou kinders. Gedurende moeilike tye is mense dikwels nie seker wat hulle moet doen nie – of hulle moet gaan of bly, iets sê of stilbly nie. As jy weet waarheen jy op pad is en dit met God se wil ooreenstem, hou vas aan daardie droom, want God sal tot die end by jou staan. 

In Handelinge 27:13-17 tref ’n geweldige storm die skip waarin Paulus na Rome geneem word om voor die keiser te verskyn. “’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die bemanning het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Hulle het anker gelig en al langs die kus van Kreta gevaar. Maar dit was nie lank nie toe slaan daar ’n stormwind toe” (vers 13-14).

Hulle was in groot gevaar. Hulle was reeds naby die eiland toe ’n sterk wind hulle ver van die land af die see ingestoot het. Hulle kon nie eers omdraai nie. Paulus het die matrose probeer verseker dat alles goed sal gaan, maar hulle het paniekerig geword. Hulle het die vrag oorboord gegooi om die skip bo water te hou (Handelinge 27:21-38). 

Paulus het geweet dat dit God se wil was dat hy voor die keiser moes verskyn. Daarom was dit net nodig vir hom om God te vertrou om hom veilig daar te besorg. Dit sou verseker dat die matrose wat saam met hom op die skip was, ook sou oorleef. 

Dalk is jy ook vandag ernstig in die moeilikheid. Jy is in ’n doodloopstraat en weet nie wat om nou te doen nie. So lank as wat jy God vertrou, het jy niks om te vrees nie. Hou in jou swaar tye aan Hom vas. Dit maak nie saak watter soort storm dit is wat jou nou teister nie. Vertrou dat God jou enduit sal bystaan.

GEBED: Dierbare Jesus, dankie vir die voorbeeld van die apostel Paulus, ’n magtige man van God wat U altyd vertrou het. Help my om my oë stip op U te hou en nie paniekerig te raak wanneer ek deur moeilike tye gaan nie. Amen 
Day 2Day 4

About this Plan

Hoop op Hom

Wanneer God aan jou kant is, hoef jy niks te vrees nie. Selfs wanneer dit voel of jy in ’n diep vallei is, sal God jou na veiligheid dra. Plaas jou hoop en vertrou in Hom, want Hy sal jou nie in die steek laat nie. Hierdie 5-dag-leesplan is geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS en GENADE IN OORVLOED deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.

More