YouVersion Logo
Search Icon

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Sample

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAY 14 OF 21

DIE REGTE GEWOONTES WYS JY IS 'N GOEIE CHRISTEN

Almal hunker na die seën en die mooi beloftes in die Bybel. Ons almal hou van Psalm 1 wat sê jy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome. Dis dan so mooi! Maar het jy geweet daar is voorwaardes aan daardie beloftes verbonde? 

Dit is net hier waar die probleem inkom. Jy soek graag God se raad wanneer jy ’n belangrike besluit moet neem, soos of jy jou huis moet verkoop. Of om te weet watter loopbaanrigting jou kind moet volg. En of jy die werksaanbod moet aanvaar of nie. 

Partykeer is Sy wil egter ’n bietjie wyer as net jóú behoeftes. Jy moet meer vir ander mense begin leef en kyk wat om jou aangaan. Maar dis seer, want sjoe, nou word jy uit jou gemaksone beweeg! Dis moeilik om lief te wees vir almal. Dis miskien een ding as jy ’n klein bietjie selfsugtig leef – dis goed bedoel, want jy wil net die beste vir jouself en jou gesin gee. Maar dis iets heeltemal anders as jy godsdiens begin gebruik om selfsugtig te wees. 

Baie mense voel hulle bid teen die dak vas. Hulle vra en smeek, maar niks gebeur nie. Jou motief is dalk verkeerd. Jy soek dalk net meer en meer vir jouself, sonder om aan ander te dink. Dis soos ’n inkopielysie wat jy aflees en daarna begin afmerk. Jy lys jou behoeftes en dan wag jy dat jy kry wat jy begeer. 

Christene kan so stry oor die doop, oor die eindtyd en oor politiek. Ons wil mos graag iemand oortuig met ’n goeie argument. Maar ware wysheid is eerder liefde, en om die ware prentjie van Jesus te kan uitdra. Jy het miskien ’n vissie op jou kar geplak, of daar hang ’n kruis in jou sitkamer en daar lê ’n Bybel op jou bedkassie. Maar dit sê niks as jy godsdiens heeltemal verkeerd interpreteer nie. 

Jy gebruik dalk jou geloof om op ander mense te trap of om te dink jy is beter as ander. 

Jy vertel moontlik dis omdat jy so geestelik is dat
jy nie tyd het vir mense wat op ’n sekere manier leef of sonde doen nie. Ons almal ken die gebod dat jy nie Sy Naam mag misbruik nie. Maar het jy geweet jy misbruik ook Sy Naam as jy nie liefde uit dra nie? As jy sê sekere mense is heidene en hulle is nie goed genoeg om Christene te wees nie, is godsdiens net jou verskoning om nie met sulke mense te meng nie. 

Jy is dalk heel in jou skik omdat jy elke Sondag kerk toe gaan. Maar jy ry so vinnig kerk toe dat jy die boemelaar langs die pad miskyk. Jy is soos die Leviet op pad na jou godsdiens toe, maar hier reg langs jou is ’n “gewonde” man wat jou nóú nodig het. 

Jesaja handel juis hieroor. Die volk het gevas; hulle het godsdiens beoefen, maar dan verkeerd opgetree en onder mekaar baklei. Dan het hulle nog gewonder hoekom word hulle geestelike getrouheid nie raakgesien nie! Kind van God-wees gaan nie daaroor om al die reëls van ’n godsdienstige lewe na te kom nie. Dit is belangriker om mense wat swaarkry te help, as om te vas. Jou hart moet oop wees sodat jy iemand anders se krisis kan raaksien. 

Partykeer is jou beste Bybelstudie om vir iemand ’n stukkie brood te gee. Jou beste kerkdiens is dalk om tussen die gebrokenes te wees. Soms is die mooiste loflied wat jy kan sing, om vir iemand ’n kombers te koop. Om jou huis oop te maak en gasvry te wees teenoor die verwaarloosde vrou wat niks het om te gee nie. Die godsdiens wat jy in jou eie huis moet beoefen, is dalk om daardie familielid wat deur almal verwerp word, te bel. 

Onthou, jy is ’n instrument wat God kan gebruik in die wêreld. Maar dit begin in jou eie huis. Jy weet mos, as dit ’n bietjie rof gaan, dan ly jou gesin eerste daaronder. Jy het heel eerste ’n plig teenoor die mense naaste aan jou. Wys jou liefde en mededeelsaamheid teenoor hulle en kyk ’n bietjie wat gebeur! 

Dis maklik om vasgevang te raak in rituele en roetines. Natuurlik is dit goed en nodig om Bybel te lees en te bid. Maar as dit wat in jou kamer gebeur nie uitvloei buitekant toe nie, is dit net ’n wettiese daad wat niks beteken nie. 

Godsdiens moet saam met jou by die kamerdeur uitgaan en ’n invloed hê op die mense wat saam met jou in jou huis bly. Dit moet wyer uitkring en ’n effek hê op alles en almal om jou. Dit moet saam met jou in die motor by jou hek uitry en die wêreld in. 

Day 13Day 15

About this Plan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More