YouVersion Logo
Search Icon

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Sample

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAY 13 OF 21

PARTY MENSE IS NIE LIEFDE WERD NIE  

Nie almal verdien liefde nie. Sommige mense is goed en ander is sleg. Party mense diskwalifiseer hulleself, want hulle wíl nie beter wees nie; hulle wil nie verander nie. Nie alle mense is deel van die genadeplan in die wêreld nie. Ek gaan nie met almal ewe vriendelik wees nie, want party mense verdien nie ’n glimlag nie. 

As jy só dink, word jy eintlik die beoordelaar of die regter, die een wat besluit wie en wat is reg. Onthou, ons beoordeel net volgens dit wat ons kan sien. Ons kyk na die uiterlike – hoe iemand aantrek, waarmee sy ry en hoe sy optree. 

Toemaar, ek doen dit ook. Ek gee opdragte op die plaas en by die kerk. Dan doen mense nie presies wat ek gevra het nie en ek word kwaad en raas. Jy sien, ek verwag ’n sekere standaard. Ek het egter al besef party mense is doodeenvoudig slimmer en mooier gemaak. Almal het verskillende persoonlikhede – nie alle werkers is soos ek nie. Elkeen is uniek – net reg vir ’n sekere doel. 

Jy het dalk hierdie gewoonte-emosies wat by jou opkom as jy aan sekere mense dink of hulle sien. Jy
is dadelik geïrriteerd as die straatkind langs jou motor verskyn en jy jak hom sommer af. Of iemand het jou in die verlede seergemaak en nou haat jy die persoon steeds. Jy is kwaad en jy glo doodeenvoudig daardie een verdien nie vergifnis nie. 

God het almal egter ewe lief. Hy het ’n plan gekry om hierdie liefde by die mensdom uit te bring: deur Sy Seun te stuur. ’n Mens dink altyd omdat die kruis daar was, het God die wêreld lief. Maar dis eintlik andersom. Die kruis is die resultaat van daardie liefde. Van ewigheid af het Hy die hele skepping lief, van Adam en Eva, tot by jou. 

Van die heel begin af het die mens egter nie geglo aan hierdie liefde nie. Adam en Eva, Moses, die Rigters; nie een het dit geglo nie. Hulle het gevoel hulle is dit nie werd nie. Jy dink moontlik ook in die stilligheid so, want jy maak ook lekker droog en doen baie verkeerde dinge. 

Iemand is dalk ’n verkragter of ’n moordenaar en hy doen verskriklike goed. Dis waar. Nou hoe kan hy liefde verdien? Wel, die Vader het selfs vir kriminele plek in Sy hart. Mense wat verskriklike dinge gedoen het, kan ook gered word uit hulle omstandighede. 

Ons almal, die kerk inkluis, is so vinnig om te oordeel. Ons dink, ja, die Bybel sê dis sonde, hierdie vrou doen verkeerde dinge. Ons moet haar uitsluit; sy mag nie deel van ons groepie wees nie. Maar ons moet eerder die Bybel gebruik om lief te hê as om te oordeel! 

Goed, jy het nou hierdie liefde ontvang, sonder om dit te verdien. Nou moet jy ook ’n plan hê om hierdie liefde verder te vat. Weet jy hoe om te groei sodat jy alle mense kan liefhê? Jy het volmaakte liefde leer ken, maar dit mag nie daar stop nie – jy moet dit verder uitdra. 

’n Ruk gelede luister ek na ’n gesprek waar mense praat oor hulle troeteldiere. Verstaan mooi, ek is lief vir diere, ek het baie diere op my plaas en ek sorg mooi vir hulle. Maar iemand sê toe haar hondjie is so cute, hy moet ook eendag hemel toe gaan. Ek wonder toe of daardie persoon dieselfde voel oor die buurman of iemand anders wat dalk op pad is hel toe? 

Wat is jou plan, hoe gaan jy liefde uitdeel? Wel, een manier om lief te hê, is deur jou besittings. As jy iets het, kan jy gee. Liefde is nie net woorde nie, gee is ook liefde. Jy kan kos gee, of klere, jou hulp, jou tyd of jou energie. As jy hierdie Skrifgedeelte verder lees, sal jy sien ons moenie net liefhê met die tong nie. As die belangrikste goed in jou lewe geld en besittings is, dan beteken dit wêreldse dinge is vir jou belangriker as mense. 

Dis maklik om te sê: “Ag, man, ek is lief vir almal op die aarde.” Die vraag is, het jy hulle ook lief met jou dade? Miskien moet ons onsself eers ’n bietjie evalueer. Wat sê jy oor ander? Hoe behandel jy die petroljoggie of die kassier by die verkooppunt? Hoe gou word jy kwaad vir swak diens en hoe gereeld haal jy jou frustrasies op ander mense uit? As jy graag wil verander, moet jy heel eerste jou hart verander. 

Kultuur het dalk ’n groot invloed op jou. Dis nogal moeilik om die regte ding te kies as jy van die oggend tot die aand tussen mense is wat sekere sondes net aanvaar. Miskien is jy tussen mense wat gedurig oor ander skinder. Tog, omdat almal dit doen beteken dit nie dit is reg nie? Jy moet by ’n punt kom waar jy jou nie meer steur aan wat almal doen nie. Jy gaan anders wees en liefde uitdeel, want álmal verdien dit! 

Day 12Day 14

About this Plan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More