Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Sample
NIEMAND KAN JOU HELP AS JY DEPRESSIEF IS NIE
Die meeste mense is moeg en gestres. Hulle voel hulle kom nie by hulle gesinne uit nie. Daar is soveel “moeg”-woorde. As jy om ’n braaivleisvuur staan of saam met vriendinne sit en koffie drink, dan hoor jy: “Ek is so moeg vir die gejaag, moeg vir die baklei, moeg om altyd vir almal daar te wees. Ek is moeg om altyd moeg te wees en nooit by die lekker goed uit te kom nie. Ek is so moeg om vas te byt om net te oorleef. Ek kan dit nie meer vat nie – alles raak net te veel vir my.”
Dan is daar die sê nou-woorde: “Sê nou ek verloor my werk? Sê nou ons het nie genoeg geld om eendag te kan aftree nie? Sê nou ons kan nie die kinders se studies betaal nie? Sê nou daar word by ons huis ingebreek of my handsak word gesteel?”
Die ergste is – jy voel soms presiés net so! Jy werk dalk meer as 40 ure per week. Jy ry al vroeër werk toe en kom al later by die huis. Jy neem selfs werk saam huis toe en sit oor naweke en saans tot laat voor jou rekenaar. Vir die belangrike dinge is daar net nooit meer tyd nie. Jy voel selfs te moeg om jou Bybel te lees of te bid. Jy wil nie meer by die kerk betrokke raak nie, want dan neem dit nog meer van jou kosbare tyd in beslag. Later voel jy weer skuldig omdat jy nie jou kant bring nie.
Godsdiens het vir baie mense ’n las geword. Het jy onlangs met iemand gepraat wat gesê het: “Ek sien uit na môre, ek is so opgewonde, die lewe is ’n lied”? Sulke woorde hoor jy nie sommer nie.
In Matteus kry jy ’n spesiale uitnodiging. As jy hierdie mooi woorde lees, is dit asof daar ’n kalmte oor jou kom. Dis asof jy hoor: Toemaar, ek sal vir jou rus en krag gee. Ek sal jou leer oor die lewe, as jy net ’n bietjie tyd by My spandeer. In die Boodskap-vertaling staan daar: “By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek.” Is dit nie mooi nie? Ek is seker dit is elke mens se groot behoefte: Wat is die sin van alles? Hoekom is ek hier? Hoekom haal ek asem? Hoekom werk ek so hard? As ek gestres en on the edge begin voel, dan weet ek een ding: Ek het te lanklaas stil geraak; ek was nie onlangs by die plek waar rus te vind is nie.
As ek vir jou sê, gaan leer by Jesus oor die lewe, sal jy dalk vir my sê: “Wat? Hy het 2000 jaar terug geleef! Wat kan ek by iemand leer wat ’n rok gedra het?” Hy het nie eenuur in die nag ’n WhatsApp-boodskap van die bank op Sy selfoon gekry nie. Hy het niks geweet van ’n hijack of regstellende aksie nie.
Dis juis die groot fout wat ons maak. Ons dink soms Hy was hierdie sagte man wat net geloop en skapies vashou het, mooi stories vertel en soentjies geblaas het. En dat alles net lekker en maklik was.
Kan ek vir jou vertel hoe dit regtig was? Josef en sy seuns het baie hard gewerk – hulle het houtwerk gedoen en hulle hande was beslis nie sag en glad nie! Om die lyding van die kruisiging te kon deurstaan, moes Hy ’n fiks jong man gewees het. Onthou jy hoe Hy die tempel skoongemaak het? Wat vra dit van so ’n man? As jy so iets wil doen, moet jy intimiderend wees maar terselfdertyd respek afdwing. Jy moet ’n MAN wees.
Al manier om by die Meester te leer, is om êrens te gaan stil word, jou Bybel oop te maak en te luister. As jy net eers kan vertrou dat jy iets kan leer, of dit nou is om kinders groot te maak of hoe om jou werk of geld reg te hanteer, is dit reeds ’n begin.
Jy kla miskien jy werk so hard vir jou gesin of jou kinders. Maar as jy eerlik met jouself is, sal jy besef baiekeer werk jy vir jouself – vir daardie adrenaline rush, vir sukses, vir sekuriteit of vir meer geld. Baiekeer dryf iets jou werk toe of iewers heen en dis nie altyd vir iemand anders wat jy dit doen nie.
Jy ken mos die spreekwoord: Wat jy saai, sal jy maai. Met ander woorde, as jy meer tyd wil hê, moet jy meer tyd saai. Waar moet jy daardie tyd saai? Op die regte plek, natuurlik. Jy moet ’n plan maak om stil te word, so lank as jy kan.
Maak jou deur toe, stel jou wekker of sit die TV af. As jy eers aan hierdie spesiale tye gewoond geraak het, sal jy later nie meer daarsonder kan klaarkom nie. Jy sal krag kry en vrede in jou binneste hê. Jy is nooit alleen nie! God help jou!
Scripture
About this Plan
Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.
More