YouVersion Logo
Search Icon

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Sample

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAY 18 OF 21

OM HEMEL TOE TE GAAN, MOET JY ALLES REG DOEN  

Jy het seker al baie preke gehoor waar die dominee sê jy moet jou bekeer, jy moet glo of jy moet wedergebore word, sodat jy kan hemel toe gaan. Dis altyd sulke groot konsepte wat gebruik word om iets eenvoudigs te verduidelik. Jesus maak dit eintlik baie maklik – Hy gebruik ’n kind om dit vir die dissipels te verduidelik. Die moeilikste en belangrikste konsep van die koninkryk verduidelik Hy deur te sê ’n mens moet soos ’n kind word. Dan sal jy gered word. 

Vir party mense is dit half vernederend: hulle voel hulle het grade of baie geld of hulle is volwasse, hoe kan hulle met ’n kind vergelyk word? Dis presies die punt. As iemand dink al daardie goed gaan hom red, dan sit hy die pot mis. As mense te hoogmoedig en belangrik is om te hoor hulle moet meer soos kinders wees, hoop ek hulle figure dit uit voor dit te laat is! Jou nederige hart gaan eendag baie meer tel as al jou geld en status. Ek dink nie daar is ’n ABSA-bank in die hemel nie. Niemand gaan hulle geld of hulle beleggings saamvat nie. 

Wat presies beteken dit dan om soos ’n kind te word? Hoekom sou daardie beeld in die Bybel gebruik word? Ek het so ’n bietjie aan my eie kinders gaan dink. Wat maak hulle so oulik? Met ander woorde, watter eienskappe van ’n kind fassineer my die meeste? 

My seuntjie, is op die nabootsstadium. As hy ’n storie op TV kyk, dan sal hy na die tyd alles doen soos die held van die storie dit gedoen het. Verder probeer hy my ook na-aap. As ek vir hom vra watter soort koeldrank hy wil hê, dan sal hy sê dit wat ek gaan drink. As ek vra wat hy wil eet, dan vra hy: “Wat gaan Pappa eet?” Dis dalk een manier hoe ons soos kinders moet word. In Matteus staan daar: “Wees volmaak soos julle hemelse Vader wat julle gemaak het.” Dis reg, jy moet begin om jou hemelse Pa te na-aap. Hy moet jou grootste held word. 

Jy onthou mos die stadium waar kleuters alles self wil doen. As jy hulle wil help om aan te trek of te eet, dan sê hulle: “Nee, ek wil self!” Dit maak jou gek, want dit vat so lank en dis partykeer ’n gemors. Ons is baiekeer net soos ’n kleuter – ons probeer al ons probleme self hanteer en dan is dit meestal ’n groot gemors! 

Hoe kyk ’n kind na die lewe? Wel, ek dink hulle het redelik min stres. Hulle weet Pappa en Mamma sal alles hanteer. Daar sal kos wees, die rekeninge sal betaal word en hulle sal speelgoed hê. My kinders weet ons is altyd daar vir hulle. As my seuntjie in die nag bang word, dan kom klim hy by my in die bed. Dan kry ek nie verder geslaap nie, maar hy is tevrede en slaap rustig. Het jy dieselfde geloof in jou Vader? 

In die Bybelse tyd het die mense aan allerhande gode geglo. Die gode het ’n soort skrikbewind gevoer. Die mense het geglo hulle moes nie die gode kwaad maak nie, anders sou hulle nie oeste hê nie, hulle sou nie kinders kry nie en hulle sou geen vis vang nie. 

Jesus draai alles op sy kop. Hy kom stel die mense voor aan ’n ander God. Een wat ’n Vader-kind- verhouding wil hê en wat wil beskerm, eerder as straf. Die koninkryk is nie ’n geval van “jy is die slaaf, Ek is die Heerser” nie. Dis nie “hou jou mond en doen wat Ek sê, anders word jy gestraf” nie. 

Nog ’n eienskap van ’n kind is hulle word net nooit moeg gespeel nie. My twee rowwe seuntjies wil altyd hê ek moet hulle swaai en met hulle stoei. Een of twee keer kan nog gaan, maar naderhand voel dit of my rug wil breek. Dan hou hulle aan en sê: “Nog! Nog!” 

Is Bybel lees of sing of kerk dalk vir jou te veel moeite? Is dit nie meer pret nie? Dan moet jy dalk weer soos ’n kind word en vra: “Nog!” Dalk is die probleem dat ons te ernstig geraak het. Ons wil die wêreld probeer red, ons wil armoede uitroei, ons wil groot goed doen. 

Maar ons het vergeet om die klein dingetjies te geniet soos om uitbundig te lag soos ’n kind. 

Kinders kan darem ongenaakbaar eerlik wees, nè? As ek my seuntjie in die oggend soen, sal hy dadelik vir my sê: “Pappa, jou asem stink!” Iemand anders sal dit nooit doen nie. Hulle sal dalk wegloop en saam stem. ’n Kind is opreg, net so moet jy ook opreg wees in jou geloof. Moenie voorgee wat jy nie is nie. Word weer soos ’n kind en jy sal naby wees aan die hemelse droom en planne vir jou lewe. 

Day 17Day 19

About this Plan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More