YouVersion Logo
Search Icon

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Sample

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAY 19 OF 21

JY HOEF NIE ALTYD DANKIE TE SÊ NIE    

Hoeveel keer het jy al gevoel jou kinders waardeer nie wat jy vir hulle doen nie? Jy help hulle met take, jy koop sportklere en jy ry hulle aan skool toe, en dan kry jy die idee hulle voel dis jou plig. Het jy al ooit gewonder hoeveel keer jou hemelse Pa in jou oor probeer fluister: Sien jy nie die dinge raak waarvoor jy dankbaar kan wees nie? Sien jy nie hoeveel goeie goed doen Ek vir jou nie? 

Ons ken almal Dawid se storie. Saul het hom agtervolg en hy moes vlug vir sy lewe. Gelukkig het hy ’n klomp manskappe gehad wat saam met hom oorlog gevoer en hom beskerm het. Dawid kon seker maklik gespog het dat hy homself beskerm het en planne gemaak het om vir Saul te uitoorlê. Maar hy kies om
al hierdie dinge raak te sien as dinge wat God gedoen het. Dawid sê, ja, daar was ’n oormag en uitdagende omstandighede, maar agter dit alles was daar Iemand wat vir hom lief was. Iemand wat getrou vir hom gesorg het. 

Jy het dieselfde keuse. As iets slegs in jou lewe gebeur kan jy sê dis die baas, die ekonomie, die weer, of wat ook al se skuld. Oefen om alles deur dieselfde bril as Dawid te sien – die TV-program, jou salaris, jou gesondheid. Alles is maniere hoe daar uit die hemel met jou gepraat word. Jy moet elke dag leer om met sulke oë na jou lewe te kyk en te sê: Dankie vir hierdie beskerming, vir hierdie situasie wat toe eintlik positief geëindig het. Hoe meer jy die lewe só leer sien, hoe makliker is dit om jou hart oop te maak en ander lief te hê. 

Dalk dink jy nou, maar ek het nie ’n werk nie, ek is sieklik, ek gaan deur ’n egskeiding, daar is dood in ons familie. Ek beleef soveel krisisse dat ek nie dieselfde as Dawid kán sê nie. Hoe kan Iemand wat so liefdevol is, toelaat dat sulke dinge met my gebeur? Hoe kan ek dankie sê as dit so gaan met my? 

Ek wil jou herinner aan Romeine 8 se bekende woorde dat niks ons van die liefde van God kan skei nie. Eendag het ’n vrou in trane na my toe gekom. Sy het gesê sy het verskriklike seer dinge beleef in haar lewe, en toe sy die TV aanskakel, toe preek ek oor Romeine 8. Dit het haar net weer laat besef, níks kan haar van die liefde van haar Pa af wegskeur nie. Dieselfde woorde kan jou ook elke dag nuwe moed gee. 

Gaan dink ’n bietjie wat skei julle twee van mekaar? Nie een van hierdie dinge, al lyk dit vir jou hoe donker en hoe onmoontlik, kan jou weghou van Hom af nie. Onthou, al daardie dinge wat jou so karnuffel, is aards en sal verbygaan. Dis vandag hier en môre is dit weg. Maar dit wat vir altyd saak maak, die ewigheid, dit bly staan. En jou plek in die hemel kan niemand van jou wegvat nie, nie eers die bose geeste in die lug nie. 

Dis vir my so lekker as my dogtertjie haar armpies om my nek gooi en sê: “Pappa, ek is lief vir jou!” Ag, dan klop my hart sommer chocolates! En dis goed om te weet: al was daar dinge wat nie lekker was nie, al het sy geval en seergekry, sy bly lief vir my. Jy moet ook leer om te sê: “Ek kry swaar en my lewe is nie presies soos ek dit wil hê nie, maar ek het U lief, ten spyte daarvan!” 

Ons leer ons kinders baiekeer om iets te doen wat ons self nie kan regkry nie. “Doen wat ek sê, moenie doen wat ek doen nie.” Dis sommige ouers se slagspreuk in die lewe. Die regte liefdesbeginsel werk egter anders. Dit getuig eerder van leer by My wat liefde is, en dan gaan doen jy dieselfde. 

Dis nie Hollywood wat liefde uitgedink het nie. Nee, die kern en bron van liefde kom uit die hemel. Ons
dink baiekeer dis ’n besluit en dit begin by jou. Jy moet eerste kies en die regte pad begin stap. Maar dis eintlik andersom. Jy is eerste gekies en liefgehê. En daarom moet hierdie liefde oorspoel na ander mense toe. As jy dink aan die hoofstuk oor liefde in 1 Korintiërs, sal jy dalk dink jy moet werk daaraan om nie kwaad te word nie of om meer geduldig te wees. Tog, as jy werk om liefde te hê, gaan jy dit nie regkry nie. Jy moet liefde wees aan die binnekant, dan sal daardie krag outomaties uitvloei na buite en oorspoel na ander. 

As jy in die regte hemelse verhouding staan, kom daardie liefde vanself. Dan kan jy nie anders as om dit uit te deel nie. So, hoe kan jy groei in liefde? Dit begin by jou oë – dit begin by hoe jy na die lewe kyk. 

Scripture

Day 18Day 20

About this Plan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More