YouVersion Logo
Search Icon

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Sample

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAY 20 OF 21

DIS BELANGRIK OM DIE REGTE IMAGE TE HÊ  

So ’n rukkie gelede het een van die belangrike mense in ons land gesê jongmense moet eerder wiskunde en wetenskap op universiteit studeer. Teologie is glad nie belangrik nie; ons land het ernstiger probleme as mense se harte. Ek kon nie glo wat ek hoor nie! ’n Mens leef tog uit jou hart; jy doen dinge vanuit jou diepste wese. ’n Uiterlike verandering hou net vir ’n rukkie as jy nie binnekant ook verander nie. 

Ek onthou op skool het die onderwysers eenkeer ’n persoon gevra om met ons te kom praat oor die gevare van rook. Die persoon het ons probeer bang maak deur vir ons ’n foto te wys van ’n kettingroker se longe. Jong, vir omtrent ’n week lank was almal bang vir ’n pakkie sigarette, maar na ’n rukkie het hulle weer vergeet van al die dreigemente. 

Toe kom praat ’n mooi vrou eendag met ons. Sy het gesê dis glad nie lekker om ’n man te soen wat rook nie; sy kies eerder iemand wat nie rook nie. My pelle het hulle pakkies sigarette vir maande daarna gebêre. Hierdie keer was daar ’n ander motivering. Almal wou die mooi meisie kry. Wys jou net: ’n Hartsmotivering hou baie langer as ’n vreesmotivering! 

Die koninkryk werk in ’n mens se hart en dis waar lewens verander. Dis waar ons land moet verander. Padwoede en liefdeloosheid is ’n gesindheidsprobleem – dis ’n hartsprobleem. 

Kom ek gee ’n voorbeeld: Jy is dalk met ’n netjiese pak klere, ’n das en blink skoene vanoggend werk toe. Jy het geskeer en naskeermiddel aangesmeer. Maar hoe weet jou kollegas of jy skoon is onder daardie pak klere? Miskien het jy twee dae laas gestort en jou klere bo-oor ’n vuil lyf aangetrek. 

Vroue kleur mos hulle hare om die grys weg te steek. Sê nou jy is ’n donkerkop en skielik besluit jy om jou hare blond te kleur. Jy lyk so anders dat jou man jou nie eers herken nie! Tog is dit net buitekant; binnekant is jy nog een en dieselfde mens. 

As ek deur ’n spogbuurt ry, kan ek my verkyk aan die netjiese tuine, mooi geverfde huise en blink motors. Maar het jy al gedink in hoeveel van daardie huise is onenigheid? Die pa en ma skree dalk op mekaar of die kinders baklei soos kat en hond. 

Week na week sit daar mense in die kerk wat nie eintlik daar wíl wees nie. Ek weet van gevalle waar die man of vrou die ander een forseer om kerk toe te gaan. Daar is dalk dreigemente soos: “As jy nie verander nie, skei ek jou”. Dan sit die persoon daar met netjiese klere aan, groet op die regte manier en praat die regte taal– ek noem dit sommer Christianese. (Dis amper soos Japanese of Chinese!) Die persoon gebruik die regte woorde, maar innerlik het niks verander nie. Hy of sy is nog net so kwaad of verslaaf soos voorheen. Ons doen baiekeer iets net ter wille van die vrede of om “in” te wees. 

Jy weet mos ons leef in ’n samelewing waar jou image baie gewig dra. As ek mense net kan beïndruk met my CV of met my kleredrag of met my motor, dan is alles reg. Baie kerke het die siening dat as jy in hierdie kerk wil wees, moet jy só praat, dit en dat doen, reg aantrek en allerhande reëls nakom. Jesus sê dis nie waar nie. As die beker binnekant vuil is, help dit nie jy maak hom net buitekant skoon nie. Daar is net Een wat jou aan die binnekant kan skoonmaak. Jy wonder dalk hoe kry ’n mens dit reg? Wel, daar is twee maniere. 

Wees eerstens eerlik oor jou sonde. Dit help nie om weg te kruip of jou sonde te ontken nie. Gaan op jou knieë en bely eerlik en opreg die dinge wat jou terughou. Noem elke ding op sy naam, en moenie skaam wees nie. 

Stap twee: Bely dit ook teenoor iemand anders. Omdat ons so gesteld is op ons image, het ons baie sleg geword met belydenis. Ons is eerder skynheilig as om eerlik te wees oor ons swakhede. Want wat sal die mense sê as hulle dit van my moet weet? 

Aan die een kant is dit so, want jy kan tog nie teenoor enigiemand bieg en al jou geraamtes uit die kas gooi nie. Jy kry wrede mense wat jou sal spot, omdat hulle in elk geval nie jou belange op die hart dra nie. Daar is sowaar iemand wat al op Facebook sy sondes bely het! Dit dien tog geen doel nie. Kry iemand wat jy regtig vertrou en wat jou opreg wil help. Bely dan die dinge waarmee jy worstel. Dan kan die persoon vir jou bid en jou hand vat sodat jy byvoorbeeld ’n slegte gewoonte kan stopsit. 

Hier in Matteus konfronteer Jesus die skrifgeleerdes en sê hulle is soos witgepleisterde grafte wat buitekant mooi lyk, maar binnekant vol doodsbeendere is.

Mense dink hulle kan ons land se probleme oplos met wetenskap en kennis. Intussen kan mense slegs verander as hulle harte verander. 

Day 19Day 21

About this Plan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More