Oorvloedige Liefde Deur Nina SmitMuestra
Gryp die dag!
Almal van ons droom drome oor wat ons nog ééndag gaan doen. Miskien wil jy graag ’n wêreldreis onderneem, miskien droom jy van jou troudag, miskien wil jy nog saam met jou eggenoot op ’n tweede wittebrood gaan. Maar niemand van ons weet hoeveel dae daar nog vir ons oor is nie (sien Markus 13:32). Jy het net vandag waarvan jy seker is – hierdie dag wat God gemaak het. Maak spesiaal vandag tyd om oor hierdie dag bly te wees.
Elke nuwe dag is ’n geskenk uit God se hand (sien Jakobus 1:17 en Psalm 42:8). Elke nuwe dag is propvol geleenthede wat jy kan benut, propvol geluk wat jy aan ander kan deurgee, propvol vreugde omdat jy aan God behoort. Benut dus elke dag ten volle – dit kom net een keer, en as dit eers verby is, kan jy dit nooit weer terugkry nie.
Daarom behoort jy vandag te lewe asof dit jou laaste dag op aarde is. Moenie die dinge uitstel wat jy nog altyd graag wou doen nie – doen hulle vandag. Vertel vandag jou familie en vriende hoe lief jy hulle het.
Gebruik jou talente vandag om ander mense te verryk. Kyk na die natuur om jou asof jy dit vir die eerste keer sien, gaan pluk ’n bos rose in jou tuin, knyp ’n tydjie af om alles te doen wat vir jou heerlik en vervullend is. Dank die Here daarvoor en leef dit ten volle!
Gebed
Hemelse Vader, baie dankie vir nog ’n dag wat U gemaak het. Help my om elke dag wat U my gee ten volle te benut – gee dat ek nie dinge sal uitstel tot môre nie, maar dat ek elke nuwe dag met blydskap uit u hand sal ontvang. Amen.
Escrituras
Acerca de este Plan
Hierdie 5-dag-leesplan oor God se liefde en oorvloed sal lesers verseker van God se sorg, vergifnis en beskerming en hulle herinner om sy daaglikse seën te waardeer. Elke dag bevat gedagtes rondom ’n spesifieke tema (soos vergifnis, werk en hoop) en ’n gebed en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Oorvloedige liefde”.
More