Oorvloedige Liefde Deur Nina SmitMuestra
In die kring van God se liefde
Psalm 32 handel oor vertroue en vergifnis. Om volkome gelukkig te kan wees, is dit noodsaaklik dat ons saak met die Here reg sal wees. Wanneer Christene sonde doen, is dit vanselfsprekend dat hulle ongelukkig daaroor sal voel. Sonde beteken altyd dat jy vir jou die toorn van God op die hals haal. As jy dus volhard in verkeerde dinge, as jy weier om jou sondes te bely, kan jy daarop reken dat dit nie goed met jou sal gaan nie.
Gelukkig los die Here ons nooit in ons ongelukkigheid nie. Daar is geen sonde wat groot genoeg is om ons van sy liefde vir ons te skei nie (sien Romeine 8:38–39). As ons ons sondes bely, is Hy onmiddellik bereid om ons te vergewe, en ons weer sy vreugde en vrede in ons lewens te gee (sien 1 Johannes 1:9). Jesus het reeds aan die kruis die prys vir jou sonde volledig vereffen, en daarom is God se vergifnis vandag tot jou beskikking.
Is daar dalk nog sondes in jou lewe wat jou ongelukkig maak? Maak dan dadelik werk daarvan! Miskien gaan dit nie so maklik wees om met jou spesifieke sondes te breek nie, maar God sal jou help om dit te doen. Vertel Hom van daardie sondes, bely hulle een vir een, en Hy sal jou ook met sy liefde omvou.
Hoe lyk dit met jou? Kan jy met eerlikheid sê dat jy vreugde vind in God se wet, of lewe jy elke dag nog onder die heerskappy van jou sondige natuur? Dit is nie langer nodig nie: Die geheim van hoe jy gelukkig kan lewe, lê by Jesus. Hy het jou reeds aan die kruis verlos. Al wat jy moet doen, is om daarmee te breek, Hom te vra om jou te vergewe, en van nou af in ooreenstemming met sy wil te lewe.
Gebed
Hemelse Vader, U weet van elkeen van my baie sondes. Ek wil hulle by name voor U kom bely. Vergewe my asseblief. Ek vertrou op U. Dankie dat ek nou weet dat U my met u liefde sal omvou. Amen.
Escrituras
Acerca de este Plan
Hierdie 5-dag-leesplan oor God se liefde en oorvloed sal lesers verseker van God se sorg, vergifnis en beskerming en hulle herinner om sy daaglikse seën te waardeer. Elke dag bevat gedagtes rondom ’n spesifieke tema (soos vergifnis, werk en hoop) en ’n gebed en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Oorvloedige liefde”.
More