Die SoektogVoorbeeld

The Quest

DAG 7 VAN 7

Die eerste vier vrae word gevra sodat ons selfondersoek kan doen om uit te vind waar ons in ons verhouding met God staan: Waar is jy? Wie het dit vir jou vertel? Wat soek jy? Hoekom is jy bang? In strak kontras daarmee, sal die vraag "Hoeveel meer?" altyd die blik van die waarheidsoeker wegneem uit die modderput van selfgesentreerdheid, na die horison waar die reënboog die lug inkleur.

"As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer!" (Lukas 11:13a).

Christus gee die antwoord weg deur die retoriek van die vraag: Hoeveel meer?

Baie meer.

Daardie vraag en antwoord bring altyd oorvloedige hoop. 

'n Vergelyking tussen Lukas se bewoording en Matteus se bewoording in hierdie stuk van Christus se lering, is fassinerend. Lees Matteus 7:7-11. Wat dink jy daarvan?

By die slotwoorde van die boek Handelinge, het Lukas meer as vyf en vyftig keer na die Heilige Gees verwys. Watter besondere betekenis het Handelinge 10:45?

Na alles wat Lukas gesien, gehoor en ervaar het, is dit geen wonder dat sy Evangelie, onder die inspirasie van God, so lees nie: "Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra" (Lukas 11:13). Hy het met sekerheid geweet dat daar nie nog so 'n geskenk op aarde was soos die Heilige Gees nie. Stel jou 'n dokter voor met al die kennis van wetenskaplike metodes wat hy in sy loopbaan opgedoen het, wat terugstaan ​​en kyk hoe die Heilige Gees die natuurwette uitdaag. Lukas was geensins liggelowig nie. Hy was bedrewe daarin om die gevolge te toets om sodoende die oorsake te bepaal. Hy het ontelbare manifestasies van die Gees gesien deur woord, genesing en daad en is deur God gebruik om permanente verslae van wonderlike ontmoetings, wat deur dieselfde Gees voortgebring is, neer te skryf. 

Onthou dat God 'n gewer is. Soos die aangrypende woorde van Romeine 8:32 sê: "Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?" Ons kan getuig van tydelike gawes wat God ons gegee het totdat ons stemme hees is, maar die somtotaal van hulle kan nie kers vashou met die gawe van Christus se eie Gees nie. Met hierdie een geskenk bestee ons 'n leeftyd daaraan om eindelose ander geskenke te ontdek: sy vertroosting, sy vreugdes, sy ontmoetings, sy bemagtigings, sy aanwysings, sy toegeneentheid. Daar is geen einde nie.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

The Quest

In hierdie 7-dag leesplan, gebruik Beth Moore vrae vanuit die Skrif om jou na intimiteit te lei met die Een wat jou die beste ken. 'n Vraagteken aan die einde van 'n sin is sprekend van nuuskierigheid, belangstelling en dalk twyfel. 'n Vraag is 'n uitnodiging tot kwesbaarheid, tot intimiteit. Die Bybel skerm nie weg van so 'n uitnodiging nie. Ons sien herhaaldelik dat God se kinders vir hul Skepper vrae vra. Ons sien ook dat die God van die heelal vrae vra aan sy skepping. Die Soektog is 'n uitdaging om hierdie uitnodiging te aanvaar.  Leer om die Woord te ontgin, reageer op die vrae wat God jou vra, en bring jou vrae en versoeke na God toe. Laat die krom vraagteken jou die pad wys na 'n meer intieme verhouding met die Vader.

More

Baie dankie aan Beth Moore en LifeWay Women wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.lifeway.com/thequest