Die SoektogVoorbeeld
God ken alreeds jou hart. Hy kan al jou gedagtes lees. Wanneer jy met hierdie studie klaar is, kan jy jou joernaal versnipper of dit verbrand, maar tussen nou en dan is dit die ware jy met die ware Meester van die heelal. Daar is iets wat jy meer as antwoorde wil hê. Jy wil openbaring hê. Jy is daarvoor gemaak. Ek ook.
Waarom sou God enigsins vir die mens vrae vra, as Hy alreeds die antwoorde ken? Miskien sal Hy eendag tientalle verklarings bied, maar telkens sê die Skrif: God, ons Skepper, Verlosser en Koning, wil interaksie hê met die kroon van sy skepping, selfs in al ons broosheid, twyfel en mislukkings. Ook nie net interaksie nie. Hy wil 'n verbondenheid hê. Hy wil intimiteit hê.
Met jou. Nie met wie jy wens jy was of hoe jy is voor ander nie. Jou ware self.
Lees Genesis 1:26–2:17 en 3:1-9 en let op na elke vers wat die woorde bevat wat God direk aan Adam gesê het — of merk dit. Watter vraag het God in Genesis 3:9 gevra?
Ruil nou plekke met Adam en laat die Goddelike ondervraging vir jou begin. Waar is jy? Jy moet êrens heen gaan, maar elke regte roete na jou bestemming begin met jou huidige ligging. Skryf in 'n joernaal direk aan God en beskryf waar jy jou tans in jou lewe bevind. As jy op 'n betreklik goeie plek is, vertel Hom daarvan. Wees spesifiek, soos met iemand wat regtig omgee en saam met jou sal juig. Dalk is jy op 'n eentonige plek of 'n betekenisvolle, pynlike of eensame plek.
Beskryf aan God, met volledige vryheid van spraak, waar jy is. Na alle waarskynlikheid is jy op 'n meer gekompliseerde plek as wat een byvoeglike naamwoord kan beskryf. Vertel Hom van die ingewikkeldhede.
Om die waarheid te sê, dalk wens jy dat jy dieselfde vraag aan God kon vra: "Here, waar is U? Waar was U onlangs?" Of "Waar was U toe ...?" Miskien ken jy die Bybelse en teologiese antwoord. Jou verstand weet die Skrif belowe dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie, maar jou hart voel tans asof Hy nêrens te vinde is nie. Jy kan Hom regtig vra waar Hy is of, as dit betrekking het op 'n vorige tydperk, waar Hy was.
Sluit jou joernaal vandag af met Psalm 139:7-10. Jy kan die presiese woorde van die psalmdigter gebruik of jou gedagtes in jou eie woorde uitdruk.
Aangaande hierdie leesplan
In hierdie 7-dag leesplan, gebruik Beth Moore vrae vanuit die Skrif om jou na intimiteit te lei met die Een wat jou die beste ken. 'n Vraagteken aan die einde van 'n sin is sprekend van nuuskierigheid, belangstelling en dalk twyfel. 'n Vraag is 'n uitnodiging tot kwesbaarheid, tot intimiteit. Die Bybel skerm nie weg van so 'n uitnodiging nie. Ons sien herhaaldelik dat God se kinders vir hul Skepper vrae vra. Ons sien ook dat die God van die heelal vrae vra aan sy skepping. Die Soektog is 'n uitdaging om hierdie uitnodiging te aanvaar. Leer om die Woord te ontgin, reageer op die vrae wat God jou vra, en bring jou vrae en versoeke na God toe. Laat die krom vraagteken jou die pad wys na 'n meer intieme verhouding met die Vader.
More