TYDSAAMVoorbeeld

TYDSAAM

DAG 5 VAN 5

Dag 5: Uitdagings

Klaagliedere 3:25-26 NLV: “Die HERE is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek. Dit is goed om geduldig te wag totdat die HERE ons red."

Ek staar 'n geweldige uitdaging in die gesig terwyl ek hier skryf: My eggenoot lê kritiek in die hospitaal met hartversaking. 'n Mens se gebede klink heeltemal anders wanneer uitdagings jou persoonlike spasie binnedring en vul.

Maar ek besef God is vooruit, al lankal. Hy het geweet ek gaan sy nabyheid nou meer as ooit tevore nodig hê. Ons vra maklik hoekom slegte dinge gebeur. Wel, my menslike antwoord is dat ek dit ook nie verstaan nie maar die Woord leer ons om God in álle omstandighede te soek. Ons Vader het te midde van al die geharwar die afgelope tyd soveel omgee en liefde deur mense — sy hande en voete — gestuur. Tot dusver was Vader goed vir my wat tot Hom nader en op Hom wag …

Ek het ook besef dat die onrus in my binneste moet bedaar. My gees moet in verbinding met God bly! Elke tree vorentoe is ‘n tree sáám met Hom — ek voel dit tasbaar aan.

My kop is stiller. My ore hoor die Heilige Gees se asem. Ek voel veilig.

Gebed: "Here, ek vra dat U my hand sal neem en saam met my déúr elke uitdaging op my pad sal stap."

Weet asseblief dat ons teksvers die waarheid is. Merk dit in jou Bybel en lees dit gereeld.

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

TYDSAAM

Die woord "tydsaam" beteken om nie haastig te wees nie, om ‘n stadiger tempo te handhaaf en om rustig te wees. Ons beweeg elke dag binne spasies van tyd — meestal vinnig en te besig om tyd saam met God deur te bring. Maar God beweeg saam met ons op sý tyd. Meestal tydsaam ...

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com