Wie Braai Jou Wors?Voorbeeld

Wie Braai Jou Wors?

DAG 3 VAN 3

3. NOU gaan ons braai!

Wanneer jy self verantwoordelikheid neem vir jou wors, dan braai jy lekker!

Die meeste mans hou daarvan om sy vuur te maak en vleis te braai soos hy wil. Daar is ‘n tevredenheid wat jy kry as jy jou vleis van die vuur afhaal en dit goed smaak. Dieselfde is waar vir ‘n man wat doelbewus sy seun opvoed en dan die vrug in sy lewe kan aanskou.

Net soos wat jy ‘n paar feite moet leer van braai, moet jy die feite ken om seuns op jou rooster te kan hanteer.

Weet HOE om vuur te maak!

Is die vure wat jy in jou huis aansteek gesellig om by te sit, te rus en lekker om by te kuier? Of is dit plofbaar en gereed om ‘n veldbrand te begin?

Laat jou woorde dan lewe skep in jou huis, in plaas daarvan om dood te spreek. Die tong is iets kleins en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God en ander kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want as jy dit nie self aansteek nie, kan die duiwel dit dalk begin aansteek. (Jakobus 3:5-6)

Die atmosfeer wat jy in jou huishouding inbring, is die vuuroond wat die gemoed, die bui en die mentaliteit waarmee jy jou seun daagliks uitstuur, gaan voorberei.

Weet WAT jy braai!

Leer jou kind ken vir wie hy is deur tyd in te ruim vir die dinge waarvan julle beide hou.

Weet wat BRAND jou seun? Met ander woorde, waarvoor is hy sensitief en waarteen het hy beskerming nodig?

Weet wat BREEK jou seun? Is daar goed wat sy karakter verkeerd gaan vorm of sy lewe in die verkeerde rigting stuur? Gee hom dan leiding.

Wat BRAAI jou seun? Met ander woorde, wat is die dinge wat vir hom die lewe lekker maak en in sy element kry, hom laat floreer en vol geur maak? Belê daarin saam met hom. Soms gaan jou tyd en belangstelling dalk wêrelde voor jou geld uit as dit hierop neerkom!

Weet WIE saam met jou braai!

As ek ‘n vriend langs my by die vuur het, gee ek nie om as hy my vleis draai terwyl ek ‘n draai loop nie. Ek het gekies om hom langs my te hê, by my huis te onthaal en aan my gesin bloot te stel.

Ons gaan nie altyd die regte antwoorde hê nie. Daar is tog egter steeds betroubare manne, vriende en broers, wat jy kan inspan langs jou om jou hande sterk te maak. Yster slyp yster. Maak seker jou ysters sit om dieselfde vuur as jy!

Moses het Josua opgerig as Israel se generaal in die woestyn. Hy het egter vir Aäron en Hur nodig gehad om op hul beurt sy hande te versterk.

Net so kan jy ook instaan vir ‘n man wat sukkel om self te braai, of dalk tydig en ontydig afwesig is. Jy wat dalk nog nie – of selfs nooit – seuns van jou eie gehad het nie, kan steeds ‘n mentor wees vir die seuns van ander.

Paulus het vir Timoteus as sy geestelike kind grootgemaak. Paulus het waarskynlik nie sy eie kinders gehad nie. Timoteus het waarskynlik sonder ‘n pa wat in sy lewe betrokke was grootgeword. Tog is hierdie duo die bekendste mentor en dissipel na wie herhaaldelik in die Nuwe Testament verwys word.

So ... pa’s. Wie braai jou wors?

So braai dan mooi ... want NOU gaan ons BRAAI!

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Wie Braai Jou Wors?

Die meeste mans hou van braai. Hoe goed braai jy egter geestelik die vleis in jou huis? Meer spesifiek, van wie verwag jy as pa om jou seunskind van manlikheid te leer? Hierdie Bybelstudie trek die treffende parallel tussen hoe om lekker te braai en jou seun vir die lewe voor te berei.

More

Ons wil graag Siloam Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/agssiloam/