Wie Braai Jou Wors?Voorbeeld

Wie Braai Jou Wors?

DAG 2 VAN 3

2. BRAND ... BREEK ... of BRAAI ...

Wie jou wors braai bepaal dalk of dit gaan BRAND, BREEK, of lekker BRAAI.

Laat jy dit oor aan die VUUR? Dan gaan dit BRAND!

As jy jou wors op die vuur sit, maar net wegloop om later terugkom om te eet, gaan jy spyt wees. Jy gaan met ‘n hardgebakte, taai, verkoolde wors sit.

In realiteit gaan dieselfde met jou seun gebeur indien jy nie saam met hom die vure van die lewe braai en die wors draai nie. As jy hom gaan oorlaat aan die genade van ‘n vurige wêreld gaan hy geskroei word.

Verstaan my mooi, die vlamme van die lewe is nodig om hom te suiwer en te toets. Jy moet hom egter bystaan sodat hy braai en nie brand nie. Op ‘n dieper geestelike vlak verstaan ons dat die Here dikwels vuur gebruik om ons in die lewe te vorm. Sy einddoel vir ons almal as sy seuns is egter nie om aan die vlamme oorgelaat te word of daarin opeindig nie.

Daarom dan pa, is jy dalk hier om hom oor die kole te haal, maar nie aan die kole oor te laat nie?

Indien jy dit aan ‘n ANDER oorlaat, gaan hy dalk draai en BREEK.

As jy van ander verwag om jou wors te braai en te draai, kan jy nie kla as dit breek nie. Jy kan nie kla oor wat jy by ‘n bring-en-braai eet as jy nie self die tang of rooster hanteer het nie. Nie waar nie? So hoekom is ons ontsteld oor waarna ons kinders kyk en luister of leer, as ons nie self tyd inruim om saam met hulle te kyk, te leer en te luister nie?

  • Jy verwag van onderwysers om jou kinders maniere te leer, maar dis jou werk.
  • Jy verwag die kerk moet jou kind van Jesus vertel, maar jy moet hom Jesus wys.
  • Jy verwag die samelewing sal hom leer van seks, maar hy is die vrug van jou boom.

Maak seker dat jou seun gewortel en geanker is in jou waardes as man. Verkieslik dan spesifiek die waardes van ‘n man wat God najaag. Dis nie maak soos ek sê nie, maar dis maak soos ek maak!

Neem jy VERANTWOORDELIKHEID vir jou wors? Dan kan hy lekker BRAAI!!!

As jy egter self jou tang en jou rooster hanteer soos ‘n man, dan braai jy lekker en jy eet nog lekkerder. Jy kry selfs komplimente van jou vrou. Wil jy nie hê jou vrou moet jou komplimenteer oor die jongman wat jyself in jou huis grootmaak nie?

Braai dan op ‘n goddelike wyse. Leer jou seun om die vlamme van die lewe te trotseer sonder om geskroei te word. Sout hom in om geur te bring in die samelewing as ‘n ware man wat na God se beeld geskape is. Draai hom weg van die vuur wat hom gaan skroei of breek. Doen dit deur jou woorde, sowel as jou voorbeeldige dade.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Wie Braai Jou Wors?

Die meeste mans hou van braai. Hoe goed braai jy egter geestelik die vleis in jou huis? Meer spesifiek, van wie verwag jy as pa om jou seunskind van manlikheid te leer? Hierdie Bybelstudie trek die treffende parallel tussen hoe om lekker te braai en jou seun vir die lewe voor te berei.

More

Ons wil graag Siloam Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/agssiloam/