Saam. Stil. Sterk.Voorbeeld

Saam. Stil. Sterk.

DAG 3 VAN 3

Gee Oor; Eindig STERK

“Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as ’n offer aan God. Die tyd van my dood is op hande. Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly” – 2 Timoteus 4:6-7 (NLV).

Die 4x100 m aflos is by elke Olimpiese Spele sekerlik van die gewildste items. Dit is dikwels soos ‘n samevatting van al die kort-afstand naellope wat op die baan te sien was. Dit is ‘n kans vir elke land se beste naellopers om saam te werk vir ‘n plek op die podium, of hulle as individue in hul afsonderlike items goed presteer het, of nie.

Op Elia se laaste dag op aarde stap hy en Elisa van dorp-tot-dorp. By elke dorp sê die ouer profeet vir Elisa hy kan daar bly, maar Elisa hou vol en om saam te gaan. Byna in elke dorp vra die profete wat daar dien ook vir Elisa of hy weet dat Elia weggevat gaan word? Almal weet Elia is op pad hemel toe, maar slegs een man kies om so ver as moontlik saam te stap …

Elia was op hierdie dag gereed om sy stryd te voltooi en die stokkie te oorhandig aan iemand wat die wedloop verder kon volhou. Elisa was weer op hierdie dag gereed om in die gaping te staan en op die regte oomblik die stokkie te neem om op die wenstreep af te pyl. Die menigte ander profete het slegs langs die pad gestaan en kyk.

As jy ‘n wedloop sterk wil voltooi, moet jy volhou tot die einde. In die geval van ‘n aflos, moet jy ook die regte spanmaats hê. Staan jy in die gaping vir jou vriende en familie? Of staan jy dalk net langs die pad en kyk? Rig jy dissipels en Goddelike kinders op aan wie jy kan oorhandig? Of laat val jy die stokkie vir die volgende geslag?

As die Here betrokke is, is dit onwankelbaar. Mag jou fondament in Jesus Christus sterk wees. Mag jy weet wie in die lewe se linies langs jou ingespan is. Mag jy weet wat om op te neem en wat om oor te gee. Psalm 127 praat van ons biologiese en geestelike nageslag as pyle in ons pylkoker. Vriende en kollegas, familie en kinders, is almal soos pyle aan ons toevertrou.

Wat maak jy met die pyle in jou pylkoker?

Maak jy hulle skerp? Maak jy hulle stomp? Maak jy hulle stil?

Elisa het ‘n dubbele porsie van Elia se salwing gekry. Hy het ook dubbel soveel wonderwerke gedoen. Wie is saam met jou ingespan? By wie neem jy die stokkie oor en aan wie oorhandig jy dit weer op jou beurt? Dit mag dalk net bepaal hoe sterk jy in die lewensbaan gaan wees.

Maak seker jy is ingespan SAAM met die regte mense op die regte pad.

Raak gereeld genoeg STIL by die Here om die stryd en storms te trotseer.

Bly STERK deur vol te hou met die regte perspektief en persone.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Saam. Stil. Sterk.

Kom SAAM op reis met die verhaal van Elia en Elisa. Raak met jou eie verhaal STIL by die Here. En staan STERK in jou lewensstryd.

More

Ons wil graag Siloam Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/agssiloam