Saam. Stil. Sterk.Voorbeeld

Saam. Stil. Sterk.

DAG 1 VAN 3

Maak Klaar; Kom SAAM.

“Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee” – Filippense 3:12-14 (NLV).

Het jy al ooit na ‘n nuwe tydperk gesoek? ‘n Nuwe begin? Hoe sou jy dit hanteer as dinge in jou lewe verander – goed of sleg?

Elisa het geboer. Hy het getrou die land bewerk en letterlik geweet wat dit is om sy hand aan die ploeg te slaan. Op ‘n dag kry hy die geleentheid van ‘n leeftyd. Die geleentheid vir ‘n nuwe avontuur en ‘n nuwe loopbaan. Elia, die groot profeet, roep hom om saam met hom te wandel.

Wat doen Elisa? Wel, hy maak klaar waarmee hy besig was. Hy sluit mooi af. Elisa bewerk die land klaar. Hy bou ‘n altaar uit sy implemente. Hy slag die werksosse en bring ‘n offer vir die Here. Hy hou ‘n lekker plaasbraai saam met die werksmese en hy seën hulle. Elisa groet vir mamma en pappa en begin sy nuwe tydperk. Elisa het met getrouheid en goedgunstigheid sy huidige tydperk, sy huidige werk, deurgesien en afgehandel. Daarom kon hy dit in vrede agterlaat en aanstap na groter dinge.

Jare later was daar ook ‘n man wat Jesus wou volg, maar hierdie man wou nie die nodige veranderinge maak nie (Lukas 9:61-62). Leef jy in die verlede of streef jy na die toekoms? Van ons kan nie vorentoe gaan nie, want ons bly agtertoe kyk en het daarom nie visie vir die toekoms nie. Van ons kan nie vorentoe beweeg nie, want ons hou vas aan wat ons al moes agtergelaat het en daarom sit ons eintlik vas waar ons is.

Sit jy dalk vas in die "glorie dae" van wat jy vroeër bereik of nagestreef het? Dan loop jy waarskynlik mis om te streef na God se "Dag van Glorie" wat nog vir jou voorlê! Knaag die tydperk waarin jy "verbrou" het nog dalk aan jou binneste?

Doen nou afstand van jou skuldgevoel. Maak reg waar jy fouteer het. Maak gereed vir die plek waarnatoe die Here jou wil neem!

‘n Nuwe tydperk kan net begin as jy die vorige een mooi afsluit en met kontinuïteit kan voortstap. Hou op om in jou omstandighede vas te sit en te vrees. Begin beweeg — en beweeg met vertroue! Hou aan werk in getrouheid en leef in dankbaarheid, maar bly met bereidwilligheid op die uitkyk.

Elisa se verlede het hy op die altaar geoffer en sy toekoms in God se hande geplaas. Hy het klaargemaak en saamgegaan. Wanneer die Here jou roep, maak klaar en gaan saam!

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Saam. Stil. Sterk.

Kom SAAM op reis met die verhaal van Elia en Elisa. Raak met jou eie verhaal STIL by die Here. En staan STERK in jou lewensstryd.

More

Ons wil graag Siloam Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/agssiloam