Saam. Stil. Sterk.Voorbeeld
Breek Weg; Raak STIL
“Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word deur die nasies, verhewe wees oor die hele aarde” – Psalm 46:11 (NLV).
Elia het ‘n groot oorwinning oor 450 Baäl-profete behaal. Hy het vuur uit die hemele geroep, bewys dat daar ‘n ware God is en met sy eie voete onder strydwaens uit gehardloop.
Nou is die oomblik egter verby. Sy lewe is in gevaar, wat hom dwing om in die woestyn te gaan wegkruip. Hy vra na die Here en word gelei na ‘n berg waar hy in ‘n grot oornag. In sy soeke na die Here, na nuwe betekenis, is daar storms, aardbewings en vuur, maar God praat met ‘n sagte stem. Net soos in elkeen van ons se lewens.
In ons stryd en gejaag in ons lewens, in die storms en struikeling, moet ons ook gereeld perspektief kry.
Elia herinner ook die Here aan sy ‘"glorie dae" wat net onlangs was (1 Konings 18:20-19:8). Elia kom vanaf ‘n massiewe hoogtepunt in sy lewe, maar waarskynlik sien hy nie dieselfde uitkoms as dit waarvoor hy gehoop het nie. Ons is dikwels op ons kwesbaarste, nie in die vallei nie, maar na ons hoogtepunte. Dikwels beleef ons juis die woestyn na ‘n oorwinning, want dinge keer terug na normaal en nou moet ons aanstap.
Het jy ook al so gevoel?
Die Here kom wys vir Elia dat in die warboel van die lewe, tussen die hoogte- en laagtepunte, word Hy in die stiltes gevind. God word gevind wanneer die storms en skuddings van die alledaagse nie ons aandag aftrek nie. Dan kan ons herfokus.
Die lewe gebeur nie net op die hoogtes nie, maar ook in die valleie. Jy moet self wegbreek na die Allerhoogste om stil te raak en weer fokus te verkry. Ons het altyd ‘n duideliker visie vanaf ‘n Hoër uitkykpunt. Dan het ons weer krag om voort te gaan en aan te hou (Jesaja 40:12-31).
Breek daagliks weg en raak stil. Moenie net wag vir die hoogtes of die valleie nie.
Onthou, selfs te midde van die storms en die stryd, kan jy steeds wegbreek en stil raak om te herkalibreer ...
Aangaande hierdie leesplan
Kom SAAM op reis met die verhaal van Elia en Elisa. Raak met jou eie verhaal STIL by die Here. En staan STERK in jou lewensstryd.
More
Ons wil graag Siloam Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/agssiloam