Om Soos Jesus te BidVoorbeeld
Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose
Of jy nou een keer of ontelbare kere gehoor het wat ons geestelike vyand se sending is, laat toe dat hierdie werklikheid insink: hy kom net om te steel, dood te maak en te vernietig (sien Johannes 10:10).
As 'n meester van vermomming, teiken die duiwel ons individuele en gesamentlike swakhede. Ons kan egter sy planne raaksien in die vrese en angs wat ons ervaar, die twyfel waaroor ons tob en die lelike en haatlike woorde wat ons sê of hoor. Hy lok ons met 'n magdom afleidings om ons van God se beste te weerhou. Hy is betrokke by elke gebroke verhouding, en hy werk om ons gesondheid en welstand aan te val — fisiek, verstandelik, emosioneel en geestelik.
Dit is hartverskeurend duidelik dat die duiwel agter die meeste verdeeldheid sit, selfs binne die liggaam van Christus. Dit is geen wonder nie dat Jesus in die Ons Vader vir ons sê om te bid vir verlossing van die Bose.
Onthou, om versoek te word, is nie 'n sonde nie. Ons weet Jesus het versoeking ervaar tydens sy tyd in die woestyn na sy doop. Jesus se vlees was swak en honger, maar Jesus het op sy Vader se krag staatgemaak en sterk gestaan teen die versoekings wat die vyand voor Hom gebring het. Hy het teruggeveg met die wapen van waarheid, wat die lewende, kragtige, sielslouterende Woord van God is.
Ons kan versoeking op verskeie maniere beveg — deur ons gedagtes te vernuwe deur die Woord van God te bestudeer, te mediteer en volgens die Woord van God te lewe, 'n aanspreeklikheidsmaat te hê en onsself ver te verwyder van die dinge en situasies wat ons verlei.
Uiteindelik is beskerming teen ons sondige vlees en die vyand se planne so eenvoudig as om God se hulp te vra deur gebed. Die Skrif verklaar immers: “... God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood” (Psalm 46:1).
Stop en Besin
Is daar 'n area in jou lewe waar jy 'n herhalende versoeking moet aanspreek? Vra die Heilige Gees om jou treë weg te lei van versoeking, en vra vir sy beskerming teen al die aanvalle van die Bose.
Bid
Magtige Vader, maak my wakker — en al my broers en susters in Christus — om voortdurend in totale afhanklikheid van U te lewe. Vergewe my wanneer my prioriteit is om my vlees te bevredig in plaas daarvan om U en u weë te soek. Motiveer my om aan U en u beloftes vas te hou. Ek loof U vir u krag wat in en deur my swakhede werk. Christus in my is meer as genoeg! Openbaar aan my alles wat my laat struikel, sodat ek dit kan vermy en U geheel en al kan navolg. U is my helper en die krag van my lewe. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Is jy gereed om jou gebedslewe te verdiep, maar nie seker hoe om te begin nie? Kom ons kyk van naderby na die instruksies in Matteus 6 wat Jesus oor gebed vir ons gee. Leer hoe om soos Jesus te bid met behulp van hierdie 7-dag leesplan van Pastoor Amy Groeschel.
More