Om Soos Jesus te BidVoorbeeld
Vertrou en Volg die Koning
Gister het ons geleer dat ons gebede uit 'n houding van dankbaarheid en lof begin. Ons probleme begin kleiner lyk wanneer ons onthou wie God is en wat Hy gedoen het — en as ons dit 'n prioriteit maak om ons hemelse Vader te eer en te aanbid as die Een wat alle lof verdien.
Wanneer ons verder gaan deur die Ons Vader, vind ons hierdie beroemde en kragtige verklaring:
"... laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matteus 6:10).
Soms, uit vrees of hardnekkige trots, leef ons vanuit 'n ander gebed wat sê "mag my koninkryk kom, en my wil geskied." As gevolg van hierdie neiging moet ons aan die vryheid en verlossende skoonheid van God se goeie planne herinner word.
Dink aan Jesus se gebed in die tuin van Getsemane die aand voor sy kruisiging. Hy het sy Vader drie afsonderlike kere gevra dat die “beker” van lyding van Hom weggeneem moet word. Maar Jesus se gebede het nie geëindig by die vra vir wat Hý verlang het nie. In elke geval het Hy gesê: "Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matteus 26:39b).
Kan jy die wonder hiervan begryp? Jesus het Homself aan sy Vader toevertrou, alhoewel Hy in sy baie nabye toekoms ondraaglike pyn en hartseer sou moes trotseer. Hy het die Vader se wil geken en geweet waarvoor Hy Hom aarde toe gestuur het.
Jesus se gehoorsame vertroue en toewyding aan die koninkryk se sending het Hom gelei na die pyn van die kruis, die donkerte van die graf, en uiteindelik na sy heerlike opstanding.
Hierdie ongelooflike daad van oorgawe aan God se wil het uitgeloop op ons ewige verlossing en die belofte van opstanding — ook vir ons!
Jesus se voorbeeld leer ons dat ons God se leiding in alle omstandighede kan vertrou. Ons moet God absoluut en voortdurend in geloof vra vir wat ons nodig het en begeer, dit alles terwyl ons vertrou dat Hy weet hoe om ons lewens vir ons beswil en tot sy eer te laat verloop.
Om aan God se wil oor te gee, is nie passief nie — en dit is beslis nie natuurlik of maklik nie. Jesus moedig ons egter aan om onsself te verootmoedig en God se weë te vertrou, wat tot lewe en vrede lei.
Stop en Besin
Watter bekommernisse het jy al probeer “regmaak” of verbeter deur jou eie wil en op jou eie maniere? Wanneer jy gereed is, bid en vertrou dit aan God toe. Vra Hom om jou volgende treë te bepaal.
Bid
Hemelse Vader, u arms is altyd wyd oop om my te ontvang. Help my om daarna te smag om my in u arms te werp. Ek verloën myself en gee oor aan u wil — ja, ek kies u wil en u weg. U het my u lewe gegee, en ek gee U myne. Help my om U ten volle te vertrou. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Is jy gereed om jou gebedslewe te verdiep, maar nie seker hoe om te begin nie? Kom ons kyk van naderby na die instruksies in Matteus 6 wat Jesus oor gebed vir ons gee. Leer hoe om soos Jesus te bid met behulp van hierdie 7-dag leesplan van Pastoor Amy Groeschel.
More