Oorwinning oor Beproewings - 'n Studie van 1 & 2 PetrusVoorbeeld
Gegrond In Die Woord van God
Lees: 2 Petrus 1:19-21
SOAP: 2 Petrus 1:20-21
Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.
Oordenking
In die tyd wat Petrus geleef het, het baie valse leraars die Woord van God verdraai om by hulle eie agendas te pas, wat daartoe gelei het dat baie mense op ‘n dwaalspoor gelei is. Dit is nie vandag anders nie. Petrus spreek hom baie ferm hierteenoor uit en bevestig die Bybel se egtheid en goddelike openbaring. Hy verklaar dat die Woord van God nie ‘n produk van mense se denke is nie. Dit is deur God geïnspireer, net soos Paulus in 2 Timoteus 3:16-17 sê. Petrus verdedig die Bybel deur te sê dat die skrywers nie hul eie interpretasie gegee het nie, maar geskryf het wat God deur hulle gespreek het deur die krag van die Heilige Gees. Dit was nie hul verbeelding nie. Dit was God se openbaring. Die Bybel is God se liefdesbrief wat aan sy kinders geskryf is om te vertel van sy groot verhaal van verlossing deur Jesus Christus.
Elke vers, elke gelykenis en elke profesie is geskryf onder die leidende hand van die Heilige Gees. Die skrywers? Hulle was mans, deur God gekies, wat nie uit hul eie wysheid geskryf het nie, maar wat as werktuie vir God se goddelike openbarings opgetree het. Beteken dit dat hulle bloot marionette vir die Heilige Gees was? Nee. Hulle het steeds in hul eie styl geskryf met woorde wat die mense rondom hulle sou verstaan, maar die Heilige Gees het hulle gelei om die waarhede van God te skryf. Die Bybel is nie mense se woorde nie maar God se direkte woorde wat geskryf is aan diegene wat Hy liefhet.
Die Bybel is geskryf aan die alledaagse, gewone mens, nie net die teologiese hoëlui nie. Daarom het jy nie ‘n graad in teologie nodig om die Woord van God te verstaan nie, maar wel die Heilige Gees. Soos jy die Bybel lees, het jy die Helige Gees nodig om jou te leer en te help om groter begrip daarvoor te hê, en toepassings vir jou lewe te kry.
Ons moet dankbaar wees vir die talentvolle Bybelleraars in ons kerke en leerskole, aangesien hulle ons help om beter begrip te kry. Tog moet ons nie net op hulle staatmaak nie, maar die Bybel ook vir onsself bestudeer en op die Heilige Gees vertrou om die betekenis duidelik te maak.
Terwyl ons uitsien na Jesus se wederkoms moet ons seker maak dat ons die Woord van God lees sodat ons nie mislei sal word nie. Wanneer ons in die Woord van God gegrond is en deur die Heilige Gees gelei word, sal ons nie maklik deur misleidende, valse leringe van stryk gebring word nie. In plaas daarvan sal ons in staat wees om sterk te staan, bemoedig met God se ewige en ewigdurende beloftes.
Gebed
Liewer Here Jesus, dankie vir die gawe van u Woord. Help my om die waarhede daarvan te koester, op die leiding van die Heilige Gees te steun en vas te staan teen enige verdraaiїngs. Mag ek altyd geanker wees in u ewige waarhede. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Petrus was 'n passievolle en toegewyde dissipel, 'n "ooggetuie van die lyde van Christus." Hoewel hierdie twee briewe eeue gelede geskryf is, spreek dit steeds tot ons hedendaagse uitdagings en bied hoop. Dit is 'n onontbeerlike kompas om die lewe in moeilike tye te navigeer. 1 en 2 Petrus is 'n herinnering aan God se blywende liefde, die belangrikheid van standvastige geloof en die belofte van die ewige lewe.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans