Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld
Dag 39: God gee aan ons die ewigheid
"Die ewigheid is ʼn oomblik wat vir ewig stilstaan" — James Montgomery.
Die ewigheid is ʼn groot woord wat mense moeilik snap maar tog hulle verbeelding vasgryp. Daar is in ons iets wat verlang na ʼn ewige bestaan. Uiteindelik gaan die verlange na die ewigheid oor meer as net ʼn oneindige tyd, maar ʼn verlange na die kwaliteit van bestaan wat nie besoedel is met sonde en gebrokenheid nie.
Ons weet dat ʼn oneindige lang tyd nie noodwendig van ʼn goeie lewe spreek nie, want dit kan gekenmerk word deur teleurstellings en lyding. Daarom dat daar mense in ons wêreld is wat lei aan ʼn fobie of vrees vir die ewigheid wat bekend staan as “apeirophobia”.
Daar is mense wat glo dat die lewe lyding beteken en dat ʼn langer bestaan meer lyding beteken. Om van lyding ontslae te raak, is dit gevolglik belangrik dat lewe korter moet wees en dat jy iewers moet ophou bestaan.
Wanneer jy egter ʼn Christen is, lewe jy met hoop ten opsigte van die lewe hierna, en die ewigheid. Die hoop op die ewigheid is ʼn verlange in ons binneste na iets groter, beter en mooier. Die ewigheidsbesef is deur God in elke mens geplaas: “Hy het aan die mens ʼn visie gegee van die ewigheid. Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk, van begin tot end, verstaan nie.” (Prediker 3:11 NLV).
God oorspan tyd, ruimte en materie in sy onbeperkte en ewige bestaan. Hy het in die begin tyd geskep, die ruimte waarbinne Hy die aarde geskape het, en het die mens op die aarde geplaas as sy verteenwoordiger. Vir die beperkte mens wat van die begin af in die konteks van tyd lewe, is dit soms moeilik om die konsep van tyd of ewigheid te verstaan, al het God in die mens se hart ʼn sin vir die ewigheid geplaas.
Nadat God alles in tyd vervul het, gaan gelowiges ʼn ewigheid saam met God deurbring. Een van die wonderlike beloftes van Bybelse hoop is Paulus se woorde: “Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ʼn heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd” (2 Korintiërs 4:17-18 NLV).
In Openbaring 21 lees ons dat God aan die einde alles herskep. Ruimte en materie word gerestoureer en tyd verander na die ewigheid. Die mens sal ʼn bestaan beleef waarin die hemel letterlik aarde toe kom.
Die ewigheid het nou aangebreek en dit is die pragtigste prentjie wat die mens al ooit kon sien. Sekerlik stel alle gelowiges belang in die hemel en wil graag daar eindig. Alle mense wil glo dat daar meer in die lewe is as dit wat op aarde ervaar word. Meer as die pyn, lyding, lewe, verlies en dood wat in ʼn leeftyd op aarde bestaan. Almal begeer na ʼn lewe hierna vir ewig.
Uiteindelik is die hemel ʼn werklike plek wat Jesus aan sy dissipels en elke gelowige belowe as die ruimte en plek vir ʼn ewige lewe. Die hemel is nie net ʼn plek waartoe die gelowige bestem is nie, dit is die woonplek van God, waar sy troon en engele teenwoordig is en waar die Vader, Seun en Heilige Gees gesien en ervaar kan word.
Die gelowige is uiteindelik daartoe bestem en Paulus maak dit duidelik dat gelowiges uiteindelik burgers van die hemel is, waarheen Jesus hulle sal verlos.
Lees hierdie volgende Skrif en skryf jou gedagtes neer.
Aangaande hierdie leesplan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More
Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/