Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld

Ontdek Die Grootste Gewer

DAG 38 VAN 40

Dag 38: God gee aan ons die opstanding

"Die opstanding is God se 'Amen!' na Christus se kruiswoord: 'Dit is volbring!'" — S. Lewis Johnson.

Die opstanding van Jesus Christus staan in die kern van die Christelike boodskap. In 1 Korintiërs 15 redeneer Paulus: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof” (1 Korintiërs 15:14 AFR53).

Hy verklaar dan verder triomfantelik: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Korintiërs 15:20 AFR53).

Wat bedoel ons met die opstanding van Christus? Jesus Christus het in hierdie wêreld gekom om te sterf as plaasvervanger vir ons sondes. Die sondelose Seun van God het gekom om sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie.

Op daardie eerste Goeie Vrydag is Jesus gekruisig. Ons weet Hy het gesterf omdat een van die Romeinse soldate Jesus se sy met ʼn spies deurboor het om sy dood te verseker. Van sy dissipels het toe sy liggaam in ʼn nuwe graf begrawe.

Terwyl Jesus gelewe het, het Hy voorspel dat Hy uit die dood sou opstaan. Hy het sy vyande uitgedaag: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig” (Johannes 2:19 AFR53).

Hulle het gedink Hy praat oor die fisieke tempel maar Hy het oor sy sterwe en opstanding gepraat. Jesus het op verskeie kere vir sy dissipels gesê dat Hy deur die leiers in Jerusalem doodgemaak sou word, maar op die derde dag lewend gemaak sou word.

Die leiers wat Jesus doodgemaak het, was bewus van hierdie voorspelling dat Hy uit die dood sou opstaan. Alhoewel hulle dit nie geglo het nie, wou hulle verseker dat dit nie sou gebeur nie en daarom het hulle ʼn wag by die graf geplaas.

Ten spyte van die voorsorg van die Jode en Romeine, het Jesus uit die dood opgestaan. Tydens sy bediening op aarde het Jesus ʼn aantal mense uit die dood lewend gemaak, insluitend Marta se broer Lasarus, wat vir vier dae dood was. Die opstanding van Jesus Christus was egter anders. Dit was nie net ʼn herlewe soos die geval met Lasarus was, wat later weer gesterf het nie.

Op die derde dag is Jesus uit die dood opgewek met ʼn verheerlikte liggaam wat met onsterflikheid en heerlikheid beklee was.

Sy opstandingsliggaam kon verskyn en verdwyn, deur ʼn toe deur beweeg en na die hemel opvaar en neerdaal. As gevolg van die wonder van Christus se opstanding, het Jesus se teleurgestelde dissipels onmiddellik die evangelie met krag begin verkondig en die opstanding van Jesus was die kern van hulle prediking.

Hoekom? Sonder die opstanding is daar geen Christenskap nie. Hierdie dissipels van Jesus het gewilliglik martelaarskap vir hulle geloof gely. Die vyande van die evangelie het alles probeer om te bewys dat Jesus nie opgestaan het uit die dood nie, maar was uiteindelik nie in staat om hierdie sentrale aanspraak van die evangelie te weerlê nie.

Hulle kon nie die liggaam van Jesus Christus wys en so die Christendom stopsit nie. Die eerste Joodse gelowiges was intussen so beïndruk deur hierdie wonderwerk dat hulle op die dag van Christus se opstanding, Sondag, eerder as op Saterdag begin aanbid het.

In die Nuwe Testamentiese tye vind ons diegene wat geweier het om in die opstanding te glo. Daarom is ongeloof in die opstanding niks nuut nie, maar oor die eeue heen het mense getwyfel oor wonderwerke en veral in die wonderbaarlike opstanding van Jesus Christus.

Diesulkes ignoreer die duidelike teks van die Nuwe Testament en die gewig van ooggetuies wat meer as 500 mense was. As ons glo in die bewyse van die opstanding van Jesus Christus soos dit in die Nuwe Testament opgeteken is, het dit besondere betekenis.

Die opstanding bewys dat Jesus Christus God is. Ons verlossing hang af van ons geloof in die opstanding van Jesus Christus: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word” (Romeine 10:9 AFR53).

Die opstanding van Jesus Christus demonstreer aan ons dat al die leringe van Jesus Christus waar is. Die krag vir ons Christelike lewe is die krag van sy opstanding. Die opstanding van Jesus Christus demonstreer ook dat Jesus Christus die aangewese uiteindelike regter van al die goddelose mense in die wêreld gaan wees. Die opstanding van Jesus Christus hou ook die belofte in dat ons ook sal opstaan uit die dood.

Word vir ʼn oomblik stil en lees hierdie volgende Skrifgedeelte en reflekteer wat die belofte van die opstanding vir jou inhou.

Dag 37Dag 39

Aangaande hierdie leesplan

Ontdek Die Grootste Gewer

Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.

More

Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/