Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld
Dag 33: God gee aan ons die derde kruiswoord
"When I thought God was hard, I found it easy to sin; but when I found God so kind, so good, so overflowing with compassion, I smote upon my breast to think that I could ever have rebelled against One who loved me so, and sought my good" — Charles Spurgeon.
Jesus se derde kruiswoord was ʼn woord van deernis. Nadat Jesus die belofte aan die misdadiger langs Hom aan die kruis gemaak het, verskuif sy fokus na die mense voor die kruis en spesifiek sy moeder, Maria en sy geliefde dissipel Johannes.
Hierdie oomblik moes verskriklik vir Maria gewees het. Miskien het sy onthou dat Simeon die profeet in die tempel ʼn profesie gebring en onder andere gesê het: “ja, ʼn swaard sal deur jou eie siel gaan — sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word” (Lukas 2:35 AFR53).
Al was die kruis van Jesus vir haar swaar, was die een troos, dat die lyding van Maria in God se boek opgeteken staan. Ten spyte van Jesus se eie pyn en lyding fokus Hy nou op Maria wat Hy geweet het verward was oor sy lot.
Jesus het verskeie kere haar herinner dat Hy die Messias is wat op die regte tyd geopenbaar moes word, daarom dat Hy haar in sulke oomblikke “Vrou” en nie moeder of ma genoem het nie. Hy sê in sy derde kruiswoord vir sy moeder: "Vrou, dáár is U seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder!” (Johannes 19:26b-27a AFR53). En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem en soos sy moeder behandel.
Dit word beweer dat Johannes, Maria saam met hom Efese toe geneem het. Tot vandag toe kan Maria se huis (na bewering) besoek word in Efese wat geleë is in hedendaagse Turkye. Daar is ʼn paar afleidings wat ons kan maak vanuit die derde kruiswoord.
Die eerste is dat Jesus vir familie omgegee het. Selfs in Jesus se donkerste oomblikke en sy belangrike sending, fokus Hy op sy aardse familie en is hulle welsyn vir Hom belangrik. Jesus was totaal onselfsugtig tot op die punt van sy eie dood. Hy het aan ander bly dink, selfs in ʼn tyd waarin dit verstaanbaar sou wees as Hy net gefokus het op sy pyn.
Hierdie woord moedig ons aan om verby ons eie pyn te kyk en om die pyn van ander raak te sien.
Deur Jesus se lewe op aarde het sy deernis vir ander altyd uitgestaan. Ons as sy volgelinge behoort dieselfde te doen. Ons is geroep om onsself te verloën en Christus te volg met ons kruise op ons rug.
Lees hierdie volgende Skrifgedeelte en oordink die gedagte dat God mense innig jammer het en wat dit vir jou lewe beteken.
Aangaande hierdie leesplan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More
Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/