AfgesonderVoorbeeld

Afgesonder

DAG 3 VAN 29

Maak die Woord van God ‘n Prioriteit

Lees Josua 1:1–9

SOAP Josua 1:8

Oordenking

Dit wat ons weet, waaroor ons praat en waarvan ons harte vol is, goed of sleg, wys of dwaas, vloei uiteindelik oor in ons gesprekke. Ons gedagtes beïnvloed grotendeels ons lewens, en daarom, as ons kies om afgesonder te leef, is dit noodsaaklik om die Woord van God voorop in ons gedagtes te hou. Daar is so baie boodskappe wat wedywer om ons, as vroue, se aandag in beslag te neem. Wanneer die Woord van God egter die middelpunt van ons lewens is, word ons nie so maklik van koers af gedryf nie. Trouens, die Woord van God anker ons sodat wanneer die golwe van beproewings, versoekings en onrus oor ons pad kom, ons veilig in die waarheid geanker is. Wanneer die Woord van God ons harte en gedagtes versadig, vorm dit ons denke, begeertes en uiteindelik ons dade. Dit hou ons ook standvastig wanneer ons in die versoeking kom om kompromieë aan te gaan of twyfel of ons die regte besluite neem.

Die keuse om afgesonder te leef is 'n pragtige, stille verklaring wat sê: “U weë is beter as myne. Daarom kies ek U, Jesus, bo die wêreld.”

Die sleutelwoord in Josua 1:8 is “gehoorsaam”. Om God se wil vir ons lewens te ken en te gehoorsaam, moet ons kies om die Woord van God in ons harte en denke te bewaar. Vroue wat afgesonder leef en nie ingetrek word by die veranderinge wat nie in pas met God is nie kies daagliks om te sê: “U wil, nie myne nie.” Om by ‘n punt van so ‘n oorgawe uit te kom, moet ons die Woord van God dag en nag in ons gedagtes hê, want dit anker ons aan God se Waarheid. Die anker van sy Waarheid hou ons standvastig wanneer die veranderende getye van die wêreld ons van koers af probeer dryf.

Gebed

Dierbare Jesus, ek kies U bo die wêreld. Help my om u Woord lief te hê en dit in my hart te bewaar sodat ek dwarsdeur die dag krag en wysheid daaruit kan put. Stel my in staat om U te gehoorsaam, nie omdat ek moet nie, maar uit my liefde vir U en op grond van my begeerte om U met my lewe te eer. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Afgesonder

Voel dit asof die wêreld al verder weg van God af beweeg? Is dit vir jou moeilik om te weet hoe om die mense in jou lewe lief te hê sonder om beïnvloed te word deur die veranderinge in 'n wêreld wat uit pas is met God?

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://liefgodgrootliks.wordpress.com/