Om Sin te Maak van Jou LeweVoorbeeld
Maak Sin van Jou Lewe – Deel 3: Vertel dit vir Jesus!
“Julle voorvaders het na My geroep om hulp, en Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars en die see oor die Egiptenaars laat kom sodat dit hulle bedek het. Julle eie oë het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle lank in die woestyn gebly" (Josua 24:7).
Hoe kan jy sin maak van 'n nuwe uitvinding tensy jy met die uitvinder praat? Dit geld ook vir die skepping. Ons moet die weë, gedagtes en oogmerke van die Skepper begryp om sy skepping te verstaan; inderdaad, om van ons eie lewens sin te maak.
Daarom kyk ons na die verhaal van God se uitverkore volk. Toe hulle in slawerny in Egipte was, het God vir Moses en Aäron geroep en die volk is vrygemaak, maar nie voordat die Egiptenaars 'n laaste aanval teen hulle geloods het en hulle voor die Rietsee vasgekeer het nie. God het al hierdie beproewinge toegelaat om sy volk se geloof te bou en om hulle van sy vertroosting te voorsien terwyl Hy hulle bevry het, sodat dieselfde deernis van God eendag sou oorvloei na ander om hulle te vertroos.
Let egter daarop dat hierdie medelye en vertroosting gekom het toe die volk van God na “die Here om hulp geroep het”. Nêrens in die geskiedenis van die Bybel het die Hebreeuse volk so gesamentlik gebid, voordat hulle uit Egipte gevlug het nie. Dit was swaarkry wat hulle tot God laat roep het. Toe die Here hulle hoor roep, het Hy vir Moses gesê: "Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem". Dit het nooit voorheen gebeur nie. Dit was nie dat Abraham nooit gebid het nie; maar nooit voorheen was daar 'n gesamentlike soort hand-van-God-in-beweging gebed voordat God se volk in swaarkry gedompel was nie.
Dit is wat God vir jou en my wil hê. Hy wil hê ons moet die soort mense wees wat uitroep: “Ek dank U vir al u seëninge, maar U is my Jehovah-Jireh; U alleen is my bron. Al is my geloof nou 'n bietjie swak omdat ek deur moeilikhede gaan; maar, o God, kom help my asseblief! Gee my krag om te bly vertrou!”
Die Here sal jou daardie krag gee, al moet jy dalk trane wegvee; want wanneer ons Hom aanroep, is sy belofte dat Hy sál hoor en ons gebede sál verhoor! Hy laat die moeilikhede in ons lewens toe, sodat ons vinnig na sy troon van genade kan kom en na Hom in ons tyd van nood om hulp roep.
God sal daardie uitroep vinnig beantwoord! Hy sal jou help, vertroos en jou bevry. Want uiteindelik soek God na mense wat nie onsensitief sal wees nie, wat nie ander sal afbreek nie, maar wat vol geloof en deernis sal wees, omdat hulle self weet wat dit is om in 'n moeilike plek te wees. Hy soek Christene wat die geheim geleer het om namens hul eie en ander se behoeftes na God uit te roep.
Ten laaste kan ons nou beter verstaan hoe om sin uit die lewe te maak! Ons sien dat dit in die moeilike plekke is waar God sy krag wys, en dat Hy daar vir jou en my die man of vrou maak wat Hy wil hê ons moet wees. God soek nie regters nie. Enigiemand kan 'n ander mens veroordeel. Trouens, die samelewing is vol kritici. In plaas daarvan soek God bevryders op aarde wat in die vuuroond van beproewing gelouter is, wat weet hoe om die Naam van Jesus aan te roep, en wat uit hul moeilikheid kom met die vertroue en oortuiging om vir 'n ander siel te sê: “Wat die Here vir my gedoen het, kan Hy ook vir jou doen!"
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe kan onvoorspelbaar en verwarrend wees, selfs wanneer ons God dien. Soms lyk dit of dinge buite beheer is, wat ons laat wonder wat in die wêreld aangaan! As jy al ooit so gevoel het of dat dit jou verward laat, is hierdie leesplan deur Pastoor Jim Cymbala net vir jou!
More