Om Sin te Maak van Jou LeweVoorbeeld
Om Sin te Maak van Jou Lewe – Deel 1: Wie is in Beheer?
“... Aan Esau het Ek die Seïrberge gegee om in besit te neem, maar Jakob en sy nageslag is af na Egipte toe" (Josua 24:4).
Of jy 'n doktorale kwalifikasie het of pas die skool verlaat het — jy het ongetwyfeld al probleme ondervind. Ons het al almal; en soms kan ons nie van die lewe sin maak nie. Ons beraam planne, maar dinge werk nie uit nie; of die onverwagse gebeur; of onvoorsiene gevolge vind plaas. Al dien ons God, lyk dit of dinge soms buite beheer raak, wat ons laat wonder wat op aarde aangaan!
Dit was dalk die geval met die volk Israel toe Josua hulle vertel wat God van sy volk gesê het. Die patriarg, Jakob, was een van 'n tweelingbroers. Esau, die ander broer, het sy eersgeboortereg vir 'n bord lensiesop verkoop, waarmee hy gewys het dat hy die seëninge van God verag. Daarom het God hom verwerp as erfgenaam van die beloftes wat Hy aan hul voorvader Abraham gemaak het. Tog sê Josua dat God later vir Esau geseën het met die bergagtige gebied van Seïr, vanwaar hy en sy nageslag maklik hulle kon verdedig indien hulle aangeval sou word. Aan die anderkant was Jakob — die geseënde seun, wat ten spyte van sy tekortkominge deur God se oppermag aanvaarding gekry het — wat saam met sy gesin na Egipte gestuur is, waar hulle slawe sou word. Dit maak geen sin nie!
Voordat ons sin kan maak uit hierdie gebeure in die Bybel en van die dinge wat in ons eie lewens gebeur, moet ons God eers verstaan. Ons is nie in beheer van die heelal nie; God is. Ons dae is volgens sy plan vir elkeen van ons bepaal. God se hoofdoel vir sy volk is om van ons manne en vroue van geloof te maak. Daarom laat Hy toe dat ons in situasies beland waarin ons moet leer om Hom te vertrou. Om watter rede sal ons God hoegenaamd moet vertrou as alles vir ons net voor die wind gaan? Nee, dis in die valleie waar Hy ons siele herstel.
God het gesê: “Jakob het Ek lief ..." (Romeine 9:13). God wou van Jakob en sy mense manne en vroue van geloof maak; dus het Hy hulle in moeilike situasies laat kom. Ons is almal in die geloofskool en dit verklaar soveel dinge in die lewe wat ons nou beter kan verstaan. Hoe gaan ons glo tensy ons moeilikhede ervaar? Hoe gaan ons leer om God te vertrou as ons nie soms seerkry nie — of as daar nie uitdagings is nie? God wil hê ons moet geloof aan ander oordra en hulle inspireer om te glo; maar ons kan ander nie oortuig om in God te glo as ons self nog nooit móés glo nie, wanneer ons nog nooit gesien het wat Hy kan doen nie.
Dis 'n geloofsgetuienis wat God vir Jakob en die volk Israel gegee het en wat Hy ook vir jou en my gee. Die volk Israel sing nog vandag — duisende jare later — liedere oor hulle tyd in Egipte en hoe God hulle verlos het. ’n Getuienis is nie iets wat jy memoriseer en opsê nie; dit is 'n lewenservaring waarin jy God moes vertrou en jy gesien het hoe Hy jou daardeur bring — dis wat dit vir jou moontlik maak om ander te help wat in 'n diep vallei is. Nou kan jy hulle bemoedig deur te sê: “Moenie moed verloor nie! Ek was ook gereed om tou op te gooi, maar wat Hy vir my gedoen het, kan Hy vir jou doen!”
Word vervolg …
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe kan onvoorspelbaar en verwarrend wees, selfs wanneer ons God dien. Soms lyk dit of dinge buite beheer is, wat ons laat wonder wat in die wêreld aangaan! As jy al ooit so gevoel het of dat dit jou verward laat, is hierdie leesplan deur Pastoor Jim Cymbala net vir jou!
More