By Waters Van RusVoorbeeld

By Waters Van Rus

DAG 8 VAN 8

“Die donker pad”

Natuurlik weet ons maar alte goed dat die regte pad nie altyd ’n pad in helder sonskyn is nie. Daar kom donker tye – tye wanneer jy voel asof jou pad doodgeloop het. Opregte en getroue kinders van die Here beland ook langs die sterfbed van ’n dierbare. En dan is dit donker. Kinders van die Here bevind hulle ook by tye in ernstige finansiële krisisse. En dan is dit donker. Kinders van die Here kan op grond van hulle geloofsoortuigings besigheid verloor. En dan is dit donker. Kinders van die Here kan ook op ’n dag hoor dat hulle aan terminale kanker ly. En dan is dit donker. Ja, kinders van die Here moet soms ’n stukkie donker pad loop. En dis nooit ’n plesier nie.

Ek is so bly daar is ’n Psalm 23 in my Bybel. In dié psalm word ek verseker dat die Here te alle tye by my is en dat sy teenwoordigheid genoeg is. Ek kom niks kort as die Here by my is nie. Die Here sorg vir my en Hy rus my toe met krag waarsonder ek nie die regte pad kan loop waarop Hy my lei nie. En dan, wanneer ek op die regte pad in ’n noute kom, wanneer dit stikdonker word om my, dan kan ek weet die Here is steeds by my. Hy dra my telkens deur die krisisse wat oor my pad kom. As ek die pad nie deur my trane kan sien nie hou Hy my vas, lei Hy my deur.

Wees verseker, in die hande van jou Herder is jy veilig!

Hierdie oordenking is geneem uit JOU GOD IS HIER! deur Johan Smit © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

By Waters Van Rus

Psalm 23 is die bekende Herderspsalm wat ontelbare gelowiges troos met die wete dat God ook vir óns die Herder sal wees, wat ons sal lei na stille waters waar daar vrede is. Johan Smit vertel van die vrede en versekering van God se sorg wat gelowiges hieruit put, en ook van Jesus, ons Herder wat sy lewe vir sy skape aflê. Hierdie 8-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies uit dié gewilde Suid-Afrikaanse skrywer se dagboeke BY WATERS VAN RUS en JOU GOD IS HIER!

More

Ons wil graag Johan Smit © Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: www.cumbooks.co.za/