Van Begin tot in Ewigheid: 'n Studie van die Grootse Vertelling van die SkrifVoorbeeld

From Beginning to Forever: A Study of the Grand Narrative of Scripture

DAG 7 VAN 9

Wanneer ons in ons Bybels van Maleagi omblaai na Matteus, is dit maklik om te vergeet dat daar meer as vier honderd jaar se geskiedenis tussen hierdie twee boeke verloop het.

Terwyl die Jode in hierdie wagperiode was, het hulle die Wet (wat hulle die Tora noem) geleer, hul godsdienstige feeste gevier en in hul aanbiddingsplekke (wat hulle die sinagoge noem), vergader om hulle aan die verbond te herinner wat hulle met God gesluit het. Hul verlossing sou kom met die aankoms van hul koning. Daarom het hulle hoopvol gewag.

Toe op 'n dag het die Hoop opgedaag.

Lees Lukas 2:1-7.

Met Jesus se geboorte was daar net sy ouers en waarskynlik 'n paar diere teenwoordig om Hom te verwelkom. Dis al. Die oomblik van sy bekendstelling in die wêreld is nie wat ons van die geboorte van 'n Koning sou verwag nie. In plaas daarvan om met krag en glorie die wêreld binne te kom, is die beloofde Koning in nederigheid en armoede gebore.

Die Bybelse skrywers het ons nie veel van Jesus se kinderjare vertel nie. Ons lees slegs van die een geleentheid toe sy ouers Hom per ongeluk in Jerusalem agtergelaat het: "Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra" (Lukas 2:46). Sy jongelingsjare is oorgeslaan en die geskiedskrywing word eers weer voortgesit toe Hy met sy bediening begin het.

Jesus se bediening is vir die herstel van die koninkryk. Hy bring lewe, genesing en vrede in 'n wêreld wat deur sonde geteister word. Gedurende sy bediening, gee Jesus aan die volk verskeie kere 'n blik van die koninkryk.

Onthou dat sonde 'n indringer is. Dit was nooit oorspronklik die bedoeling om deel van God se skepping te wees nie. Deur sy wonderwerke gee Jesus die mensdom vlugtige insigte van 'n wêreld wat sonder sonde is.

Lees Matteus 4:17.

Jesus se voorbeeld van dissipelskap verg van sy volgelinge om hulle aan Hom toe te wy en aan die standaard van koninkrykslewe wat Hy vereis het.

Regdeur sy bediening het Jesus teenkanting teen sy boodskap ondervind. Deur Homself as die Heer en Koning te verklaar, het Jesus 'n dapper aanspraak gemaak waarvan die godsdiensleiers niks gehou het nie. Hulle pogings om die Koning van die skepping stil te maak, het eintlik die teenoorgestelde tot gevolg gehad. As 'n deel van die Goddelike plan, het Jesus se kruisiging en opstanding gedien as sy troonbestyging wat Hom as Koning gevestig het en so die uiteindelike oorwinning vir die koninkryk van God bevestig het.

Lees Lukas 23:32-49 en Lukas 24:1-8.

Toe Jesus gesterf het, is die land deur duisternis bedek, wat 'n fisieke voorstelling was van die hartseer en pyn wat die oomblik gevul het.

In die Romeinse ryk was kruisiging 'n wrede en aaklige wyse om te sterf. Met Jesus se opstanding was die gevolg van hierdie vernedering egter sy verheerliking. Deur sy enkele daad van opoffering, het Jesus sy koninkryksmissie voltooi. In Genesis 3:15 het God belowe dat Hy sou regmaak wat Adam en Eva se sondige besluit verwoes het. Ons sien dus hoe hierdie belofte deur Jesus in vervulling gaan!

Die Koning het opgestaan en sy heerskappy het begin.

Halleluja!

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

From Beginning to Forever: A Study of the Grand Narrative of Scripture

Hierdie leesplan lei jou deur die verhaal van die Bybel en wys jou hoe al 66 boeke saamgestel, een verenigde vertelling vorm. Die ryk teologiese waarhede word van Genesis tot in Openbaring saamgeweef om in hierdie 9-dag studie die ewige betekenisvolheid te wys van wat God in die wêreld doen en hoe Hy ons uitnooi om daarvan deel te word.

More

Baie dankie aan LifeWay Women wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.lifeway.com/forever