Jesus Se Woorde Vir Elke DagVoorbeeld

Sonder woorde
Dade praat soms harder as woorde. Jesus het by meer as een geleentheid niks gesê nie, maar sy houding, kyk of dade het boekdele gespreek.
Een van die mees aangrypende gedeeltes in die Bybel is toe Petrus vir Jesus verloën het. Die oomblik wat die haan gekraai het, het Jesus, wat in aanhouding en onder kruisverhoor was, omgedraai en reguit in Petrus se oë gekyk. Ek glo nie Jesus se bedoeling was om Petrus seer te maak of om leedvermakerig te wees nie, maar daardie kyk het Petrus aan sy bravade en arrogansie herinner toe hy gesê het dat hy Jesus nooit sal verloën nie.
By ’n ander geleentheid verwag die veroordelaars van die vrou wat op owerspel betrap is dat Jesus haar ook veroordeel. Hulle vra Hom spesifiek of die ou verbond se wet toegepas moet word; of sy met klippe doodgegooi moet word. Jesus het eers nie geantwoord nie. Hy het vooroor gebuk en met sy vinger in die grond geskryf. Ons weet nie wat Hy geskryf het nie, maar ons weet wel dat die vrou se “regters” skaam weggestap het.
Dink aan die keer toe Jesus tydens die aandete die skottel met water geneem, ’n handdoek om sy heupe gebind en sy dissipels se voete begin was het. Hulle sou hierdie daad nooit vergeet nie, en dit was eers ná sy stil, nederige daad dat Hy vir hulle verklaar het wat die betekenis daarvan is.
En die manier waarop Jesus gely het, het boekdele gespreek. Jesaja 53:7 sê: “Hy is soos ’n lam wat na die slagplek gelei word – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie” (Bybel in Afrikaans 1933/1953).
Soms praat die Here ook geen woord teenoor my en jou nie, maar sy liefdevolle teenwoordigheid vertroos en bemoedig ons.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Dis nie aldag maklik om in God se lig te leef nie. Ons moet tyd maak om sy woorde binne-in ons te hoor en te laat weerklink: woorde van aanmoediging, woorde wat wys op die doel van ons lewe, naamlik om Hom te volg en te dien terwyl Hy elke dag saam met ons is. Hierdie 7-dag leesplan kom uit JESUS SE WOORDE VIR ELKE DAG deur Jan de Wet.
More
Ons wil graag Christelike Kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/
Verwante Leesplanne

Sy Glorie, My Storie: 'n Studie Van Sy Heerlikheid in Hebreërs

Delf dieper deur Romeine

Ervaar jy die volheid van die Heilige Gees?

BibleProject | Hemel en Aarde op die Berg

Staan weer op

Ek Kán My Wêreld Verander Deur My Storie

Die Kosbare Geskenk Van Vergifnis

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Voltydse Volharding
