Soms Vra God Geduld ...Voorbeeld
Sy tydsberekening is perfek
Keer op keer was die Israeliete ongehoorsaam, en het hulle gekla en God gewantrou. Daardie hele generasie het gesterf in die woestyn. Hoekom? Hulle het nie lydsaamheid gehad nie. Hulle het God nie vertrou nie. Hulle het gedurig gevra: “Hoekom het ons nie kos nie? Hoekom het ons nie water nie? Hoekom het ons nie klere nie? Wanneer gaan ons hier uitkom?” Uiteindelik het net twee manne van die oorspronklike groep mense Kanaän deur die Jordaanrivier binnegegaan. Hoekom? Hulle het ’n ander gees gehad. Hulle het gekies om God te glo toe al die ander ongeloof gekies het. Hulle het verby die onmiddellike omstandighede gekyk met oë van geloof. Josua en Kaleb se lydsame geloof het vrugte gedra.
Is jy lydsaam? Waar staan jy in hierdie verband? Is jy bereid om te wag vir dit wat God jou belowe het? Hy sal jou nie teleurstel nie. As God ’n belofte maak, sal dit waar word! Die keuse is joune; jy kan lydsaam wag op die belofte, of jy kan jou eie plan maak. Pastoor William Duma het nooit ’n besluit geneem sonder om sy Vader te raadpleeg nie. Een keer is hy en twee ander pastore genooi om Israel toe te gaan, alle onkoste gedek. Die ander twee pastore het dadelik die uitnodiging aanvaar. Pastoor Duma het gesê: “Kan ek julle môre my antwoord gee? Ek moet eers my Here vra of ek kan gaan.” Die Here het gesê hy kan gaan, maar hy het nogtans eers gevra.
Hoeveel keer doen ons nie impulsief dinge terwyl ons eers op God moet wag nie? Ek ervaar dat ek op hierdie tydstip van my lewe meer kere op God moet wag as ooit tevore. Ek verkondig al vir meer as 30 jaar getrou die evangelie. Nou, na al die jare, begin God by Shalom deure oopmaak waarvan ek dekades gelede nie eens kon droom nie. Gee jouself oor in God se hande en glo dat sy tydsberekening perfek is. Staan vas totdat Hy terugkom.
My Vader, ek bid dat U my geloof sal versterk. Help my om geduldig op U te wag. Ek besef dat alles wat ek het ’n gawe van U is. Leer my om lydsaam en met blydskap op U te wag. Amen.
Hierdie oordenkings is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Geloof is nie “Siedaar!” nie – jy klap nie bloot jou vingers of swaai ’n towerstaf nie. Jy moet eers vra na die wil van God. En dan moet jy dikwels wag ... Ons moet getrou bly tot ons God se stem hoor en geduldig op Hom wag – so word ons geloof ook vir ander sigbaar. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/