Soms Vra God Geduld ...Voorbeeld

Soms Vra God Geduld ...

DAG 2 VAN 7

Volhardende geloof

Ek wil hê ons moet stilstaan en oor die lydsaamheid van geloof praat. Oswald Chambers skryf in sy boek My Utmost for His Highest dat lydsaamheid meer as uithouvermoë is. God sê vir ons om geduldig te volhard. Chambers praat nie van die “kners op jou tande” soort volharding nie. Hy praat van die soort volharding wat berus op die kennis dat jou God in beheer van jou lewe is. Onthou wat hy van geloof geskryf het: “Die wortel van geloof is die kennis van ’n Persoon.” Dít is die geheim van volharding. Hoe meer jy Jesus leer ken, hoe nader sal jy aan Hom voel, en hoe makliker sal dit vir jou wees om met geduld te volhard.

Die Here sê ons moet vasstaan, want ons is naby aan die hoogtepunt van die eeu. Moenie jou geloof verloor nie. As jy jou geloof verloor, het jy alles verloor. Jy kan inderdaad ook jou gesonde verstand verloor. Ek sê dit omdat die duiwel toenemend soveel druk begin uitoefen, dat dit al hoe makliker word om moed te verloor. As jy nie gevestig is in jou geloof nie, kan jy bevrees of angstig word, en dit is presies waar die duiwel inkom. Dit lei na depressie en selfs erger dinge, soos om byvoorbeeld selfdood te oorweeg. Ons sielkundige inrigtings is vol mense wat hul laaste hoop verloor het. Dit is uit die diepte van die hel afkomstig; dit sê ek vandag vir jou.

Die Here moedig ons aan om te volhard. Hy belowe dat as ons volhard, Hy ons sal bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die mense wat die aarde bewoon, te toets. Waarna sien ons uit aan die einde van die reis? Openbaring 2:10 sê vir ons: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” Soos ons reeds gesê het, dit is nie hier op aarde waar dinge vir ons eindig nie. Die hemel is ons bestemming; daar sal ons saam met Jesus regeer. Dit is die einddoel van volhardende geloof.

My Vader, ek aanbid U. Ek dank U vir u woorde van bemoediging en vermaning vandag. Ek bid dat U my genadig sal wees. Help my om te volhard in geloof. Ek wil Jesus beter leer ken sodat my geloof elke dag sterker kan word. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Soms Vra God Geduld ...

Geloof is nie “Siedaar!” nie – jy klap nie bloot jou vingers of swaai ’n towerstaf nie. Jy moet eers vra na die wil van God. En dan moet jy dikwels wag ... Ons moet getrou bly tot ons God se stem hoor en geduldig op Hom wag – so word ons geloof ook vir ander sigbaar. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/