Corrie ten Boom se Kersfeesherinneringe Voorbeeld

Corrie Ten Boom’s Christmas Memories

DAG 3 VAN 3

Kersfees by Ravensbrück 

“Elke soldaatskoen wat in die oorlog gebruik is, en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word, deur die vuur verteer word” (Jesaja 9:4).  

Dis Kersfees 1944. Corrie is in die hospitaalbarak. Betsie is 11 dae gelede oorlede. ’n Dag nadat Betsie dood is, staan ​​Corrie in die ry waar hul name afgelees word. Daar is groot droefheid in haar hart en donkerte omvou haar. Dan hoor sy haar naam en dat sy vrygelaat is! Al wat haar nog daarvan weerhou om uit Ravensbrück ontslaan te word, is vir die kampdokter om haar as gesond te verklaar. Die dokter het nie veel tyd nodig vir sy diagnose nie: swelling. Corrie word dus na die hospitaalbarak gestuur en probeer om haar bene soveel as moontlik omhoog te hou om van die swelling ontslae te raak.  

Die gesteun, gekerm en gekla van die siek en sterwende vroue is hartverskeurend. Die verpleegsters na-aap sinies die vroue. Sommige vroue val uit die bedjies wat hulle met ander siek en sterwende vroue moet deel, en sterf dan op die vloer. Vroue huil om 'n bedpan, maar niemand help hulle nie. Corrie strompel uit haar bed en help die vroue. Sy probeer hulle vertel van Christus en sy koms na 'n gevalle wêreld en dat Hy die oorwinnaar is, maar niemand stel belang nie en spot haar .

Dan hoor Corrie 'n klein kindjie huil: "Mamma, kom na Oelie toe, Oelie voel alleen!" Corrie gaan na die dogtertjie toe. Sy is uitgeteer en die snit op haar rug waar sy geopereer is, is met toiletpapier bedek. Corrie sien sy is besig om te sterf en gaan sit langs die kind en vertel haar: “Oelie, mamma kan nie nou kom nie, maar weet jy Wie is bereid om te kom? — die Here Jesus. Hy het as klein baba na hierdie wêreld gekom en later het Hy ons van al ons verkeerde dade en sondes gered. Oelie gaan dalk hemel toe, en Jesus is nou daar, Hy maak 'n huisie vir Oelie gereed.” Corrie vra die dogterjie of sy haar verstaan en die kindjie herhaal wat Corrie vertel het van die huisie wat Jesus vir haar voorberei en dat daar geen soldaatskoene en geen soldate sal wees wat ander wil seermaak nie. “Daar sal ek vir Jesus sien.” Dan vou albei hul hande en dank die Here Jesus. 

Nou weet en verstaan ​​Corrie hoekom sy hierdie Kersfees in Ravensbruck moes agterbly. Voor die einde van die jaar kry sy haar gesondheidsklaring en gaan Nederland toe — terug huis toe.

Oordink

Daar kan baie stampende soldaatskoene en klere in bloed geweek wees, maar die dag kom wat alles verbrand sal word: want vir ons is 'n Kind gebore en die bewind sal op sy skouers wees!  

Gebed 

Here help ons om u ewige bewind te vier wat sterker is as elke bedreiging in die hede.

---

Corrie ten Boom se Kersherinneringe  

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Corrie ten Boom (wat gedurende 1892-1983 geleef het) en haar gesin in die weerstandsbeweging in Nederland gewerk. Hulle het sowat 800 mense gehelp. Baie van hulle was Jode. Corrie is egter verraai en het 10 maande in die tronk in Scheveningen en in die konsentrasiekampe Vught en Ravensbrück deurgebring. Ná die oorlog het sy deur die wêreld gereis om ander van God se liefde, vergifnis en genade te vertel. Corrie kom uit 'n diep-gelowige familie wat oor baie geslagte heen strek. Die Bybel het 'n sentrale plek in hulle lewens ingeneem. Die Here Jesus Christus, wat die Lewende Woord van God is, het met hulle deur die geskrewe Woord van God gepraat. Hulle het die Bybel daagliks gelees en baie Bybelverse gememoriseer.

Dientje Wiersma is 'n toergids by die Corrie ten Boom-huis in Haarlem, Nederland. Sy het hierdie leesplan geskryf en het Bybelverse gebruik wat vir die gesin baie belangrik was. Sy het ook geskryf oor beide die belangrikheid en die toepassing van hierdie verse in die lewens van die Ten Boom-gesin.  

Wil jy meer oor Corrie ten Boom weet? Gaan na www.corrietenboom.com 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Corrie Ten Boom’s Christmas Memories

In hierdie leesplan gaan ons na Jesaja 9 kyk en uitvind hoe Corrie ten Boom gedurende haar kinderjare, vóór die oorlog sowel as in die konsentrasiekamp in Ravensbrück in 1944, Kersfees gevier het. Corrie het persoonlik in haar boek, "Corrie's Christmas Memories" (1976), oor hierdie Kersfeestye geskryf.

More

Ons bedank graag Stichting Corrie ten Boomhuis vir die verskaffing van hierdie leesplan. Besoek asseblief: https://www.corrietenboom.com/en/home vir nog inligting