Lewe Veranderd: In die Nuwe JaarVoorbeeld
Leef ‘n Jaar van Oorgawe
Die begin van die jaar is die perfekte tyd om tot stilstand te kom en nabetragting te hou — nie slegs vir redes waarom ons dankbaar moet wees nie, maar ook om in die komende jaar te genees en te groei.
Terwyl ons terugdink aan die jaar wat verby is, kan gevoelens wat seermaak weer na vore kom. Eerder as om die gevoelens te ignoreer of hulle toe te laat om bitterheid te veroorsaak, kan ons liewer die vryheid van vergifnis kies. Die eerste stap na vergifnis is oorgawe.
"Oorgawe" is een van daardie woorde wat mense fyngevoelig maak, veral wanneer dit by vergifnis kom. Ons is geneig om dit te vergelyk met ‘n stryd wat verloor is — 'n wit vlag wat waai en toelaat dat die vyand ons inhaal. Wanneer ons onsself aan God oorgee, kan dit vanuit 'n ander lig benader word.
Oorgawe aan God beteken om openhartig met ons lewens te wees — selfs ook met ons seer en pyn sodat God ons daarvan kan genees. Hy is vol liefde, barmhartigheid en deernis vir elkeen van ons. Ons hoef nie bang te wees om ons pyn aan God te gee nie. Ons kan Hom vertrou om ons met teerheid te behandel en ons harte met sorg te hanteer.
Ons kan God ook vertrou om regverdig te wees. Dit is natuurlik vir ons om te wil sien dat iemand die gevolge van hul dade moet dra. Selfs God raak regverdig woedend oor sonde en onreg. Ons moet egter aanvaar dat slegs God 'n mens se hart kan oordeel. Dis nie vir ons om te besluit of iemand straf of genade ontvang nie. Om aan ons behoefte vir wraak vas te hou, sal ons net verbitterd laat.
As ons vanjaar in vrede wil lewe, moet ons ons woede en trots aan God oorgee en op ons eie harte fokus. Ons moet ‘n doelbewuste keuse maak om ons pyn en ons begeerte na beheer aan sy voete neer te lê en God vra om in ons lewens te werk. Ons moet erken dat ons sy hulp nodig het.
As volgelinge van Christus, is vergifnis deel van ons daaglikse lewe — selfs al wil ons dit nie doen nie. Soms wanneer ons deur vergifnis werk, moet ons dikwels dieselfde pyn weer en weer aan God oorgee. Wanneer gevoelens van die verlede weer na vore kom, moet ons telkens weer vergewe totdat dit ons nie meer ontstel nie. Met God se genade is vergifnis altyd moontlik.
Vergifnis beteken nie dat wat gebeur het, reg of in orde is nie. Dit beteken nie dat ons mense toelaat om ons aanhoudend seer te maak nie. Dit beteken ook nie dat jy noodwendig 'n aangesig-tot-aangesig gesprek met die persoon moet hê nie — die persoon hoef selfs nie meer te lewe om hulle te vergewe nie, want dit gaan nie oor hulle nie. Dit is 'n oomblik van erkenning tussen God en ons. Dit is om Hom in te nooi sodat Hy ons harte kan genees.
Moenie die aanstote en hartseer van verlede jaar oordra na hierdie jaar toe nie. As daar iets is wat jou vergifnis nodig het, neem 'n oomblik om te bid en dit aan God oor te gee. Sê vir Hom dat jy sy hulp nodig het en dat jy Hom met die resultate vertrou.
Aangaande hierdie leesplan
Met elke Nuwejaar kry ons ‘n nuwe geleentheid vir ‘n nuwe begin. Moenie dat hierdie jaar net nog ‘n jaar wees wat begin met besluite wat jy nie end-uit sal kan volhou nie. Hierdie 4-dag leesplan sal jou kans vir nadenke en ‘n nuwe perspektief gee, sodat jy dit jou beste jaar ooit kan maak.
More