Die Grootste GeskenkVoorbeeld
Week 1: Die Gewer
Goedheid Self
Lees: Psalm 34:9; Psalm 84; Markus 10:18
SOAP: Psalm 84:12
Die Here God is ons krag en ons beskerming,
die Here gee genade en eer,
Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.
Oordenking
Het jy al ooit 'n absoluut perfekte geskenk ontvang? Iets wat presies was waarop jy gehoop het, waarvoor jy geskimp het, waaroor jy gedroom het, en nou is dit joune. Dalk was dit kunstig toegedraai en aangebied op 'n manier wat jou laat besef het dit is sonder twyfel baie besonder. Wat dit nog meer spesiaal gemaak het, was dat die persoon van wie jy dit ontvang het, tyd geneem het om noukeurig aandag te skenk aan wat jy graag wou hê. Hulle het geweet waarvan jy hou en het tyd en geld opgeoffer om seker te maak dat jy daardie geskenk ontvang. Daardie geskenk het jou geliefd en gewaardeerd laat voel.
Hoewel die geskenke wat God ons gee nie toegedraai is met strikkies en mooi papier nie, is dit soveel meer werd as enigiets wat ons ooit onder die kersboom sal vind. God se geskenke vir ons is nie net dinge wat ons graag wil hê nie, dis die sielsbevredigende, ewige, liefdevolle geskenke wat God weet ons nodig het.
God se geskenke aan sy kinders is goed, want Hy is goed. Psalm 34:9 gee vir ons die opdrag om "te kom ondervind en self te sien dat die HERE goed is", en in Markus 10:18 sê Jesus vir ons dat "Niemand goed is behalwe God alleen nie". Terwyl ons hierdie Kerstyd deurbring om die goeie geskenke wat die Vader ons bied, oop te maak, mag ons harte oop wees om geskenke te ontvang wat soveel meer is as wat ons wil hê, maar presies wat ons nodig het.
Gebed
Vader, U alleen is goed en ek is so geëerd om die goeie en volmaakte geskenke te ontvang wat U weet ek nodig het. Dankie dat U my beskermer, my skuiling en my krag is. Mag my hele wese juig van vreugde terwyl ek U — my grootste geskenk — met die mense om my deel. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie ses weke lange Bybelstudie is daarop gemik om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God en wat dit beteken om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Namate ons die Adventstyd binnegaan, sal ons ‘n paar van die gawes wat God in Jesus vir ons gegee het, bestudeer, naamlik: hoop, geloof, vreugde en vrede.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/