Die Grootste GeskenkVoorbeeld

Die Grootste Geskenk

DAG 6 VAN 43

Gebruik Jou Gawes

Lees: 1 Korintiërs 12; 1 Petrus 4:10–11

SOAP: 1 Petrus 4:10–11

As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.




Oordenking

Wat gebeur op Kersoggend wanneer broers en susters of neefs en niggies bymekaar kom om geskenke oop te maak? Soms is dit totale chaos, en niemand weet werklik wat die ander ontvang het voordat die strikkies en geskenkpapier uiteindelik op die grond lê nie. Of as jou gesinsbyeenkomste 'n bietjie meer georganiseerd is, maak elke kind een geskenk op 'n slag oop, sodat almal die kans kry om in die kollig te wees. Hoe ook al, daar is altyd ‘n onvermydelike oomblik wanneer geskenke vergelyk word. Hoe vergelyk dit wat ek ontvang het met wat hulle so pas oopgemaak het? Sou ek eerder iets anders wou hê, of is ek tevrede met wat ek gekry het?

Die geskenke wat ons van die Vader ontvang, is nie items wat ons onder die Kersboom moet uitpak nie, maar eerder areas van ons persoonlikheid en karakter wat ons uniek maak om sy koninkryk te bevorder. Die gawes wat gelowiges van die Heilige Gees ontvang, is bedoel om in harmonie gebruik te word om eenheid te skep, nie om ons van mekaar te onderskei nie. Al hierdie gawes: wysheid, kennis, geloof, genesing, wonderwerke, profesieë, onderskeidingsvermoë — is almal bedoel om saam beter te wees.

Wanneer ons die gawes wat God ons gegee het, met ope arms aanvaar en dit gebruik tot sy eer en nie ons eie nie, baat ons gesinne, gemeenskappe en kerke daarby. Alhoewel jy mag rondkyk om te sien watter gawe iemand anders ontvang het, glo dat God jou op 'n pragtige manier geskep het om uniek toegerus te wees om jou gawe vir sy heerlikheid te gebruik. Kyk rond, maar net om te sien waar jou gawe iemand anders kan bemoedig. Kyk rond, maar slegs om te sien waar jy kan saamwerk in plaas daarvan om te vergelyk. Maar bowenal, rig jou oë na bo en dank God dat Hy jou 'n wonderlike geskenk gegee het.



Gebed

Hemelse Vader, dis maklik om na ander gelowiges te kyk en gawes en geleenthede te vergelyk. Help ons om gefokus te bly net daar waar U ons geroep het, sodat ons U kan dien en nie ons eie agendas nie. Mag ons ons gawes daartoe verbind om u koninkryk te laat groei en eer aan U te bring, want ons is werklik beter saam. Amen.





Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Die Grootste Geskenk

Hierdie ses weke lange Bybelstudie is daarop gemik om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God en wat dit beteken om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Namate ons die Adventstyd binnegaan, sal ons ‘n paar van die gawes wat God in Jesus vir ons gegee het, bestudeer, naamlik: hoop, geloof, vreugde en vrede.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/