Die Hantering van VerdrietVoorbeeld
God Is Nog Op Die Troon
Wanneer die dood op 'n onverwagte manier kom, soos byvoorbeeld 'n skielike ongeluk, of as 'n jong kind skielik sterf, is daar altyd 'n gevoel dat dit nie veronderstel was om te gebeur nie. Ons steier onder die uitklophou wat die noodlot ons toegedien het. Hierdie gevoel dat ons onkant betrap is, kan soms lei tot 'n idee dat God ook verbaas was, omdat Hy ons nie vooraf gewaarsku het of genoeg tyd gegee het om daarvoor voor te berei nie. Dis soos wanneer ons met 'n terminale siekte gediagnoseer word en net 'n sekere tyd oorhet om te leef.
Die Bybel verseker ons egter dat God die opperheerskappy oor lewe en dood het. Hy word nooit onkant betrap nie, gebeure verras Hom nooit nie. Nee, God orden alles tot in die fynste besonderhede. Hierdie waarheid bring vrede en rus vir 'n hart wat deur 'n skielike verlies verpletter is.
Matteus 10:29-31 sê: “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Dit is 'n kosbare en diepgaande werklikheid wat by die treurende hart ingeprent moet word.
J.C. Ryle skryf: "'n Mens is gelukkig as jy in die Here se voetspore kan volg en sê: 'Ek sal kry wat goed is vir my. Ek sal op die aarde leef tot my werk klaar is en nie 'n oomblik langer nie. Ek sal gaan wanneer ek gereed is vir die hemel en nie 'n minuut vroeër nie. Al die magte in die wêreld kan nie my lewe neem nie, totdat God dit toelaat. Al die dokters op aarde kan nie my lewe behou wanneer God my wegroep nie.'"
In Lasarus se geval, sê die Bybel: "Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word."
Daar is 'n verskil tussen wanneer God ja sê vir jou gebed oor 'n spesifieke behoefte en ja sê vir jou gebed om jou sy heerlikheid te toon. Ons kan verseker wees dat ons geloof in Jesus se beloftes daarop sal uitloop dat ons eendag verstaan hoe God ons pyn gebruik het om Homself te verheerlik.
Die lewe is nie sonder pyn nie, maar Jesus sal nooit ophou om vir ons om te gee nie. As jy op Hom vertrou sal Hy jou sy heerlikheid wys.
Onthou dat die dood nie die einde is nie. Onthou ook dat hierdie tragedie van betekenis kan wees. Dat dié dood nie betekenisloos sou wees nie.
Die tragedie in 'n ateïs se geloof is dat alles uiteindelik betekenisloos is. Dood word die uiteindelike tragedie, omdat dit die finale einde van die lewe is. Ons harte protesteer egter daarteen. Ons wil hê daar moet betekenis wees, selfs in tragedie. En in die evangelie is daar.
Romeine 8:28 gee vir ons die versekering: "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is."
Mag die Here hierdie oordenking gebruik om jou te oortuig dat God nog op die troon is en dat sommige van jou beste dae nog voorlê, dae gevul met betekenis en beduidenis, as jy Hom toelaat om jou seer te gebruik om ander te help en te bemoedig. Dit is die heerlikheid wat die moeite werd is om voor te leef.
Aanhaling: "God fluister vir ons in ons plesiertjies, praat met ons deur ons gewete, maar roep hard uit in ons pyn: dis sy megafoon om 'n dooie wêreld wakker te maak." C.S. Lewis
Gebed: Here, dankie dat U nog op die troon is en selfs deur die verlies van my geliefde sal U u Naam verheerlik en iets moois van my lewe maak. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Leer in hierdie 10-dag oordenking hoe om verdriet te hanteer as ons geliefdes hierdie aarde verlaat. Die Here het hierdie lesse vir my begin leer nadat my vrou aan die einde van Junie 2021 oorlede is.
More