Die Hantering van VerdrietVoorbeeld
Die Dood Is Deel Van Die Lewe
Die dood is amper altyd 'n onderwerp wat ons vermy. Baie mense voel ongemaklik om daaroor te praat. Sommige mense is bang daarvoor. Die dood is egter 'n deel van die lewe.
Dis was George Bernard Shaw wat gesê het dat die dood se statistiek verbysterend is — "een uit elke persoon sterf." Die dood is die enigste ding in hierdie lewe wat seker is.
God het nooit vir ons of ons geliefdes belowe dat ons nooit sal sterf nie. Hy het eintlik die teenoorgestelde belowe — almal sal sterf. Hebreërs 9:27 sê vir ons: "'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel."
Elkeen gaan dood. God breek geen beloftes as Hy mense laat sterf nie. Hy laat net eenvoudig toe dat gebeur wat Hy gesê het gaan gebeur. Sedert Adam en Eva dood en verval in ons wêreld gebring het, was die dood 'n deel van die ooreenkoms. Ons moet dus vir die dood voorbereid wees.
In Johannes 11:11 sien ons hoe sagkens Christus oor die dood van gelowiges praat. Hy kondig die feit dat Lasarus dood is, met mooi woorde en sagmoedigheid aan — "Ons vriend, Lasarus, slaap."
Sielkundiges sê vir ons dat tanatofobie, vrees vir die dood, die grootste oorsaak van alle vrese is. As jy 'n gees van vreesagtigheid het, het jy dit nie van God gekry nie. Jy raak van vrees in jou lewe ontslae as jy dit met geloof vervang. Wanneer geloof kom, verdwyn vrees! Vrees gaan weg wanneer geloof kom!
Jesus het alreeds die angel uit die dood gehaal vir dié wat Hom as hul Verlosser aanvaar het (1 Korintiërs 15:55-57). Deur middel van Jesus se oorwinning oor die dood, het Hy "hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, bevry" (Hebreërs 2:14-15). Die dood hou geen verskrikking in vir die kind van God wat die Here vertrou nie; maar bied eerder 'n heerlike verwagting van die vrymaking van enige beperkinge van hierdie aardse lewe, na die bevryding van die hemelse lewe. Soos Paulus gesê het: "om te sterwe, is vir my wins" (Filippense 1:21).
Toe kanker Donald Barnhouse se vrou wegneem en hom met drie kinders, jonger as 12 jaar agtergelaat het, het hy nagedink oor hoe om 'n boodskap van hoop aan sy kinders oor te dra. Terwyl hulle op pad was na die begrafnisdiens, het 'n groot trok by hulle verbygery en 'n merkbare skaduwee oor hulle kar gegooi. Hy draai toe na sy oudste dogter, wat hartseer by die venster uitgekyk het, en sê: "Liefie, sê vir my, sou jy eerder deur daardie trok raakgery wil word of deur sy skaduwee?" Sy kyk nuuskierig na hom en antwoord: "Deur die skaduwee, dink ek. Dit kan my nie seermaak nie." Hy praat toe met al sy kinders en sê: "Julle ma is nie deur die dood raakgery nie, maar deur die skaduwee van die dood. Daar is niks om voor bang te wees nie."
Die aftelling tot by die dood, begin by geboorte. Die Bybel skram nie weg om oor die dood te praat nie: dit noem dit by die naam. Die kern van die Christendom is die dood en opstanding van Jesus.
Jesus gaan aan die kruis die verdriet en lyding van die wêreld binne; Hy ervaar die verlatenheid en diepte van die dood. Met die opstanding breek Jesus die mag van die dood; dis nie meer 'n swaard wat oor die mensdom se koppe hang nie; dit word deur Hom geherdefinieer en Hy bied ons die ewige lewe.
As ons teologie net oor die kruis handel, loop ons die hoop en vreugde van die evangelie mis.
As ons teologie net een van opstanding is, kan ons nie die lyding verstaan of sin daaruit maak nie, of selfs daarmee gemaklik wees nie.
Ons het altwee nodig — die kruis en die opstanding.
Aanhaling: Waar sonde verwyder is, kan die dood slegs die aardse lewe onderbreek en die hemelse lewe inlyf. — John MacArthur
Gebed: Here, ek dank U dat die dood nie die einde is nie, maar die begin van lewe. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Leer in hierdie 10-dag oordenking hoe om verdriet te hanteer as ons geliefdes hierdie aarde verlaat. Die Here het hierdie lesse vir my begin leer nadat my vrou aan die einde van Junie 2021 oorlede is.
More