Lewe Veranderd: Ma tot MaVoorbeeld

Living Changed: Mom to Mom

DAG 6 VAN 7

Oorgawe

Ouerskap, meer as enigiets anders in die lewe, leer ons dat ons nie in beheer is nie. Ons is nie in beheer van ander se persepsies, reaksies, interpretasies of gedrag nie. Dit maak nie saak hoe graag ons wens die teenoorgestelde is die waarheid nie, ons is nie in beheer van ons kinders se keuses of die gevolge daarvan nie. 

Ek het altyd daaroor gedroom om die perfekte gesin te hê. Ek het gedink daar is 'n spesiale formule. As ek my familie op 'n sekere manier opbou, sal die resultaat wees wat ek gedroom het. Ek het nie geweet dat hierdie seëning met soveel harde werk, trane, vrae en hartseer gepaardgaan nie. 

My oudste seun is my "verlore seun". Baie soos die gelykenis in Lukas 15, het hy weggedraai van wat ons hom geleer het om sy eie pad te volg. Toe hy hoërskool toe gaan, het ons hom koshuis toe gestuur. Die donker, kronkelende pad wat ons tot daardie keuse gelei het, was vreesaanjaend. Hy het gedrink, gerook en was heeltemal buite beheer. Ek het hom baie lief en ek was beangs vir oor sy toekoms.

In sy afwesigheid het ek na die lied geluister wat sê: “Ek gee alles oor aan Jesus. Ek gee alles vrylik oor aan Hom. Ek sal Hom lief hê en op Hom vertrou. Ek sal elke dag in sy teenwoordigheid leef" (vrye vertaling). Oor en oor het ek na hierdie lied geluister. 

Dit was 'n gedurige stoeiery om my greep te verslap en God met my seun te vertrou. Dit was uitputtend. Ek het vasgeklou aan die belofte in Jesaja 40:31 wat sê: "maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Ek het God se krag vir elke tree nodig gehad.

Dit het my lank gevat om te besef, dit maak nie saak watter formule ek volg nie, wie en wat my kinders word, is nie my keuse nie. Die oorwinnings en verliese, suksesse en mislukkings, behoort nie aan my nie. Net soos ek 'n vrye wil het, so ook my kinders. Net soos wat ek 'n gat in my hart het wat net God kan vul, so ook my kinders. Net soos wat God my nagevolg het toe ek so vinnig en so ver as moontlik weggehardloop het, volg God ook my kinders na en gee vir hulle 'n keuse om oor te gee en Hom te aanvaar.

Ek leer nog steeds hoe om my kinders aan God oor te gee. Ek weet nou dat ek net my beste kan doen om hulle te lei, en dan moet ek kies om my hoop en vertroue in God te plaas. Dankie tog dat God getrou is om my krag te hernu, terwyl ek leer om Hom te vertrou. 

Indien jy, soos ek, sukkel om God met jou kinders te vertrou, wil ek jou bemoedig. Ongeag wat ek gedink het toe ek jonger was, bestaan daar nie iets soos 'n perfekte gesin nie. Daar is nie 'n kitsoplossing vir ons probleme nie. Daar is net die daaglikse wete dat God se beloftes waar is en die keuse om aan Hom oor te gee. Dit is die enigste formule wat ek gevind het wat werk: oorgawe, hoop in Hom, vind krag by Hom, herhaal dit weer.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Mom to Mom

Om 'n ma te wees is die lonendste rol wat ons ooit sal speel, maar die reis deur moederskap is 'n uitdaging. Dis propvol onsekerhede, beproewinge, vernederende oomblikke, en geleenthede om op God te vertrou. In hierdie 7-dag leesplan, deel sewe ma's vanuit verskillende fases van die lewe hulle ondervinding en wysheid oor moederskap.

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com