Lewe Veranderd: Ma tot MaVoorbeeld
Vriendelikheid
Van kleintyd af, ongeag watter geloof ons volg, word ons die goue reël geleer: doen aan ander soos jy wil hê hulle aan jou moet doen. Dit is goeie raad vir jou lewe, en direk vanuit Jesus se onderrig. Dit is 'n eenvoudige frase, maar dit is 'n moeilike les om uit te leef.
Een van die dinge wat my besonder grief, is wanneer mense onvriendelik is. Ek dink daar is geen verskoning vir mense om onvriendelik met mekaar te wees nie. Daardie geloof vloei deur in my ouerskap. Dis een van die dinge waaraan ek regtig hard werk met my dogters — hoe om met hul woorde gaaf teenoor mekaar, hulself en hul vriende te wees.
Jare gelede het ons deur 'n baie moeilike tydperk gegaan toe hulle regtig aaklig teenoor mekaar was. Hulle het uit hulle pad gegaan om mekaar te tart. Hulle het enigiets gedoen om die ander een kwaad te maak. Ek het met my hande in my hare gesit! Ek het in trane my man gebel, want ek het nie geweet wat om nog te doen nie. Ek het al alles probeer!
Toe kry ek 'n idee. Ons het besluit wanneer hy na werk by die huis kom, sal ons hulle 'n bietjie van hul eie medisyne gee.
Van die oomblik wat hy by die huis aangekom het was ek en my man aanmekaar. Toe ons vir ete aansit het hy gesê hy hou nie van die kos wat ek gemaak het nie. Ek het hom geantwoord dat hy volgende keer vir homself aandete kan maak! Ons het die hele aandete deur met mekaar gestry. Ons dogters was geskok.
Uiteindelik het hulle ons gestop en ons eie woorde om vriendelik te wees aan ons herhaal. Hulle het goed gesê soos: “jy moet dankbaar wees vir die kos” en “julle moet met mekaar gaaf wees” en “as jy nie iets goed het om te sê nie, bly eerder stil.” Hulle het dus tog geluister na wat ons hulle probeer leer het, al het hul dit nie toegepas nie.
Later daardie aand het ons aan hulle ons eksperiment verduidelik, en hulle herinner dat Jesus ons geroep het om ander te behandel soos ons behandel wil word. Ons wil met vriendelikheid behandel word, dus is dit hoe ons ander moet behandel. Ons het Spreuke 18:21 bespreek wat sê dat die tong mag het oor dood en lewe. Ons het aan hul beklemtoon dat ons onthou wil word as mense wat ander altyd opgebou en bemoedig het, nie met ons woorde afgebreek het nie.
Ek het my dogters onlangs gevra of hulle nog daardie aand onthou. Albei het ja gesê. Ek stel nie noodwendig ons metode voor nie, maar ek is dankbaar dat die les behoorlik by hulle posgevat het.
As ouers, gaan ons nie altyd alles regkry nie. In alle eerlikheid, kan ons dit as 'n sukses beskou as ons dit die helfte van die tyd regkry. As ons staatmaak op Jesus se onderrig as fondament vir wat ons die kinders leer, kan ons verseker wees dat ons op die regte pad is. Indien jy in jou ouerskap onseker voel, haal diep asem en rig jou oë op Jesus vir leiding.
Aangaande hierdie leesplan
Om 'n ma te wees is die lonendste rol wat ons ooit sal speel, maar die reis deur moederskap is 'n uitdaging. Dis propvol onsekerhede, beproewinge, vernederende oomblikke, en geleenthede om op God te vertrou. In hierdie 7-dag leesplan, deel sewe ma's vanuit verskillende fases van die lewe hulle ondervinding en wysheid oor moederskap.
More