Op Jesus Se HakkeVoorbeeld
Ontmoet Jesus se helde
Kan ek jou vertel van Jesus se dissipel-helde? Ons vertel dikwels eietydse dissipelskapverhale van groot dissipels, maar kom ons vra vir Jesus wie is sy helde. Wie is die mense oor wie Jesus hande klap, en oor wie Hy juig wanneer dit gaan oor dissipelskap?
In Markus 12 sien Jesus hoe ’n ou dame daar by die tempel se skatkis verbyloop en twee klein muntstukkies in die tempel se skatkis gooi. Die waarde van hierdie muntstukkies is ongeveer so ’n agste van ’n dag se werk. Jy kon so min of meer 15 druiwekorrels koop met die geld wat sy ingegooi het. Niemand het daarvan kennis geneem nie. Niemand nie. Almal het gehoor hoe stap die ryk ouens verby en hoe val hulle geld daar in die tempel se skatkis. Maar Jesus stop en Hy wys sy dissipels op wat sy doen. Die Messias wil vir hulle iets leer. Jesus sê: “Let op. Sy het meer gegee as almal. Sy het alles gegee wat sy nodig het om van te lewe. Sy’t haar kosgeld, haar broodgeld, haar lewensgeld gegee. Sy het alles gegee.” Niemand sien haar raak nie, maar sy is sopas verklaar tot die nuutste biljoenêr in die koninkryk van God. God het gesien, God klap hande. Jesus klap hande.
Dit is daardie stil helde wat Jesus se oë vang. Dit is oor hulle wat Hy sê: “Die Koninkryk van God is vir sulke mense.” Mense sê dit is so moeilik en so swaar om Jesus te volg – dalk nie. Dalk doen ons dit verkeerd. Dalk wil ons baie dinge vir Jesus doen. Dalk dink ons dis die volume wat Hom sal laat hande klap. Dit is nie. Dis wanneer jy “klein groot” doen, jou geld gee, tot rus kom soos Maria by Jesus se voete, of net die pad eendag oorsteek om een vreemdeling se laste op jou skouers te dra soos die barmhartige Samaritaan.
Jesus roep my om Hom te volg. En as ek aanmeld, sal Hy my leer hoe om een van sy helde te word. Wil jy dit nie doen nie? Wil jy nie jou naam ook in hoofletters in die hemel laat weerklink nie? Word een van sy helde!
Aangaande hierdie leesplan
Om Jesus se volgelinge te wees in ’n stukkende wêreld is beslis nie kinderspeletjies nie. Maar dit is elke kind van God se roeping; daarom belowe Hy om elke stap van die pad saam met ons te wees wanneer ons onsself toewy aan Hom. In hierdie 8-dag-leesplan gesels Stephan Joubert en Johan Smith oor die uitdagings, verantwoordelikhede en vreugdes van mense wat op Jesus se hakke loop.
More
Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.rightnowmedia.org/promo/op-jesus-se-hakke |