Op Jesus Se HakkeVoorbeeld
Dissipelskap = Verhoudings
Het jy al ooit gedink dat dissipelskap eintlik maar net verhoudings is? Kyk maar net na Jesus se voorbeeld met sy twaalf dissipels. Hoe het Jesus dissipelskap gedoen en geleef teenoor sy eie twaalf dissipels? Hy het doodgewoon in verhouding met hulle gestaan. In verhouding met hulle gelééf. Hy’t naby genoeg aan hulle geleef sodat Hy op hulle “afgevryf” het. ’n Mens moet naby genoeg leef aan mense sodat jy op hulle “afvryf”: sodat hulle jou manier van doen – jou lewe vir Jesus – kan aanleer. En dis presies wat Jesus gedoen het met sy dissipels.
Jesus se dissipels het Hom gehoor bid. Hulle het na Hom geluister as Hy met sy Vader gepraat het. Hulle het Hom dopgehou terwyl Hy met die skares gepraat het en die Woord gedeel het – en sy Pa se hart gedeel het. Met ander woorde, hulle het gesien en geleer. Hulle het geluister en geleer, hulle het gekyk en geleer. Jesus was naby aan hulle. Hy was in ’n diep genoeg verhouding met hulle dat Hy op hulle afgevryf het.
So wat is verskriklik belangrik in die dissipelskapproses? Om naby aan mense te leef en tyd te maak vir mense. Kom in verhouding met mense. Dit het tyd geword dat ek en jy besef dat dissipelskap gelyk is aan verhoudings. Om ander mense te help om agter Jesus aan te stap, moet ons ons lewe stadiger maak sodat hulle by Jesus kan uitkom. Dit is die voorbeeld wat Jesus self vir ons gestel het.
Dink ’n bietjie aan ’n kort mannetjie, ’n tollenaar, wat vreeslik graag vir Jesus wou sien, maar nie plek kon kry in die massa om te sien nie. Lukas 19:5 sê toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê: “Saggeus, kom gou af want Ek móét vandag in jou huis tuisgaan.” Jesus kom tot stilstand by die een wat Hom nodig het: by Saggeus. En wat sê Hy vir Saggeus? Dis nie net vinnig groet en aanbeweeg nie. Dis: “Ek wil by jou aan huis kom. Ek wil saam met jou eet, Ek wil met jou ’n verhouding bou. Ek wil saam met jou kuier sodat Ek, Jesus, op jou kan afvryf.”
Ons moet ook nader aan mense kom, ons moet stadiger beweeg. Ons moet naby kom aan ander – gelowiges en ongelowiges – sodat hulle saam met ons die liefde van die Here kan ervaar. Om saam met ons agter Jesus aan te loop en te volg op die hakke van Jesus Christus.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Om Jesus se volgelinge te wees in ’n stukkende wêreld is beslis nie kinderspeletjies nie. Maar dit is elke kind van God se roeping; daarom belowe Hy om elke stap van die pad saam met ons te wees wanneer ons onsself toewy aan Hom. In hierdie 8-dag-leesplan gesels Stephan Joubert en Johan Smith oor die uitdagings, verantwoordelikhede en vreugdes van mense wat op Jesus se hakke loop.
More
Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.rightnowmedia.org/promo/op-jesus-se-hakke |