Op Jesus Se HakkeVoorbeeld
Bewonderaar of volgeling?
Bewonderaars is mense wat hulle helde volg solank dit hulle niks kos nie. Solank hulle kan deel in al die glorie en in al die eer. Bewonderaars vlug gou, en vat die pad as die pad styl raak.
Ons lees in Markus 14:12-13 van een van Jesus se grootste bewonderaars. Die jong man Markus. Markus was beïndruk deur Jesus, maar daardie aand in Getsemane het hy weggehardloop. Later vat Paulus-hulle hom saam op die eerste sendingreis. En dan doen hierdie jong Markus die tweede groot weghardloop. Wanneer dinge warm raak op die sendingveld, laat hy Paulus in die steek. Maar baie jare later noem Paulus Markus in Kolossense 4 sy geliefde kind. En ons lees hoe Paulus in sy tweede Timoteus-brief vir Timoteus sê: “Bring Markus na my toe.” En dan word Markus die een wat die aflosstokkie saam met Timoteus kry. Hy word die eerste skrywer van ’n Evangelie – die Markus-Evangelie. Dan gradeer hy op vanaf ’n bewonderaar na ’n dissipel.
Jesus soek nie bewonderaars nie. Hy soek volgelinge. Hy soek volgelinge wat saam met Hom na drenkelinge sal soek wanneer die storms woed. Hy soek mense wat saam met Hom sal stap selfs wanneer die pad styl is. Hy soek dissipels.
En ek moet bely, ek sukkel daarmee. Ek het Jesus al baie bewonder en Hom nie altyd gevolg nie. Ek was al soveel kere ver van Hom af. Maar Jesus gee nie op op bewonderaars nie. Hy roep ons nader. Hy sê: “Ek het genade gehad vir Markus; my grootste bewonderaar het my getroue dissipel geword. En Ek gaan nie opgee met jou nie. Ek gaan jou roep tot ’n hoër standaard. Ek gaan jou roep tot my standaard. Ek gaan jou ’n nuwe mens maak. Ek gaan jou toerus met my Heilige Gees, om My te volg.”
Ek en jy kan een ding weet – Soos Paulus in 2 Korintiërs 12 sê: “Ons is swak.” Maar die Here sê: “Ek kan iets met jou swakheid doen as jy dit vir My gee. Ek kan jou sterk maak op my terme. Ek kan jou die geleier van my krag maak. Ek kan jou gebruik op maniere wat jou sal verras. Kom na My toe. Ek sal jou dra. Ek sal jou nuut maak. Word ’n volgeling. Volg My op my terme en jy sal sien wat Ek deur jou lewe kan bereik.”
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Om Jesus se volgelinge te wees in ’n stukkende wêreld is beslis nie kinderspeletjies nie. Maar dit is elke kind van God se roeping; daarom belowe Hy om elke stap van die pad saam met ons te wees wanneer ons onsself toewy aan Hom. In hierdie 8-dag-leesplan gesels Stephan Joubert en Johan Smith oor die uitdagings, verantwoordelikhede en vreugdes van mense wat op Jesus se hakke loop.
More
Ons wil graag RightNow Media South Africa bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.rightnowmedia.org/promo/op-jesus-se-hakke |