Geloof Bo VolmaaktheidVoorbeeld

Lees: Genesis 25:19–26; Psalm 113
SOAP: Genesis 25:21
Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword.
Oordenking
Die vertelling oor Isak, die erfgenaam van die belofte, begin baie soos Abraham s’n. Net soos sy moeder, was Isak se vrou onvrugbaar. Sy moes twintig jaar wag om vir Isak ‘n kind te gee wat die seën van God se belofte sou voortdra. Hulle het steeds God se Goddelike ingryping nodig gehad om die belofte te vervul.
Alhoewel die situasie ooreengestem het, was Isak se reaksie anders as sy ouers s’n. In plaas daarvan dat hy die belofte probeer waar maak het deur self in te gryp, het Isak hom na die Here gewend. Hy het vir Rebekka gebid en God het sy gebed verhoor. Isak se geloof in die belofte het tot God se antwoord gelei. Ons weet nie presies hoe lank Isak vir sy vrou gebid het nie (dalk twintig jaar), maar wat ons wel weet, is dat God geantwoord het.
Toe Rebekka swanger word, het sy groot benoudheid en pyn verduur as gevolg van die stryd tussen haar twee kinders. Die Hebreeuse woord beskryf ‘n hewige en ongewone stryd, nie die tipiese beweging van ‘n tweeling in die baarmoeder nie. Net soos Isak het Rebekka die Here geraadpleeg. Sy het haar na Hom gewend en Hy het haar geantwoord.
Hierdie verhaal loop oor van God se bonatuurlike voorsiening. God het ‘n onvrugbare baarmoeder genees en Rebekka in haar pyn vertroos. Isak en Rebekka het tot die Here gebid in plaas van om op hulle eie middele staat te maak om die probleem op te los. Hulle geloof het hulle gelei na die Een wat in hulle behoefte kon voorsien en sy beloftes nakom.
Hoewel al die karakters in die patriargale verhale die een of ander tyd hulle eie middele aangewend het om ‘n probleem of konflik op te los, is hul mislukking nie die fokus van die verhaal nie, maar hul geloof. In hulle groot nood het Isak en Rebekka hulle tot die Here gewend. Hulle het geglo dat Hy alleen hulle gebede kon verhoor. God is weer die held, want sonder sy Goddelike ingryping sou die belofte nie vervul kon word nie. God het ingetree om deur Isak en Rebekka sy eie voornemens vir die wêreld te verwesenlik. As ons in geloof volhard, en glo dat Hy aan die werk is (selfs in twintig jaar van onvrugbaarheid), kan ons hoop en vrede vind.
Gebed
Here God, ek glo dat U my gebede verhoor. Here, ek weet nie hoe lank dit gaan neem voordat U antwoord nie. Terwyl ek wag, help my om te glo dat U besig is om te werk. Ek vertrou op U, selfs wanneer ek U nie kan sien beweeg nie. Gee my geloof soos Isak en Rebekka om selfs te midde van my pyn na U te draai. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Wat vra God van ons? Dis ‘n vraag waarmee ons almal worstel. Al wat God vra is dat ons glo. "Geloof Bo Volmaaktheid" ondersoek die geloofslewens van Abram (later Abraham genoem) en sy seun Isak. Hulle was nie volmaak nie. Daar was talle oomblikke toe hulle dade nie met hulle geloof gestrook het nie. Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken. (Genesis 15:6)
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/
Verwante Leesplanne

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Sy Glorie, My Storie: 'n Studie Van Sy Heerlikheid in Hebreërs

Die Kosbare Geskenk Van Vergifnis

Staan weer op

Ek Kán My Wêreld Verander Deur My Storie

Terugkeer na God: 21 Dae van Vas en Gebed

Delf dieper deur Romeine

Ervaar jy die volheid van die Heilige Gees?

Voltydse Volharding
