Geloof Bo VolmaaktheidVoorbeeld

Geloof Bo Volmaaktheid

DAG 10 VAN 43

Lees: Genesis 16:1–6; Spreuke 3:5; 16:9

SOAP: Spreuke 3:5

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. 


Oordenking

In Genesis 12 het God ‘n belofte aan Abram gemaak. God het belowe om aan Abram baie afstammelinge te gee, ’n land van sy eie, en om hom tot seën vir alle nasies te maak. Soos ons in Genesis 16 lees, het jare verbygegaan, en Abram het nog geen van God se beloftes vervuld gesien nie. God het egter voortgegaan om sy belofte aan Abram te bevestig en ’n verbond met Abram gesluit en die belofte verstewig – maar Abram het nog steeds gewag.

Die eerste keer wat die belofte in gevaar gestel is, was toe daar hongersnood in die land gekom het. Die land was onvrugbaar, nie in staat om voedsel te produseer nie, nie in staat om Abram en sy kamp te onderhou nie, wat nog te sê van die afstammelinge wat te veel sou wees om te tel. Abram het na Egipte gegaan en met baie besittings teruggekeer, insluitende slavinne. Hagar was heel waarskynlik een van hierdie slavinne.

Soos die land tydens daardie hongersnood onvrugbaar was, was Sarai ook onvrugbaar. Sy kon nie kinders kry nie. Hoe kon God enigsins sy belofte vervul om aan Abram baie afstammelinge te gee as sy vrou nie net onvrugbaar was nie, maar ook nie meer in haar vrugbare jare was nie? Weer eens twyfel Abram. Weer eens het die onvrugbaarheid groter gelyk as wat God kon verlos. En weer eens wend Abram hom na Egipte om te skuil.

Deur te kies om ’n kind by Hagar te hê, neem Abram die saak in sy eie hande. Hy het geweet wat God belowe het, maar hy het nie geglo dat God sy belofte sou kon vervul sonder sy ingryping nie. Abram het baie wonderlike dinge ontvang toe hy Egipte verlaat het, maar een van die dinge het hom tot verdere ongeloof gelei. Die seën van ’n seun deur Hagar was inderdaad ook ’n wonderlike ding, maar dit was nie wat God belowe het nie. Alhoewel dit moontlik kan wees om onsself te red van desperate situasies (soos hongersnood of kinderloosheid), is wonderlike dinge soms nie wat God vir ons wil gee nie.

Soos ons die res van Abram se verhaal sien afspeel, sal ons sien hoe sy gebrek aan geloof in hierdie situasies spanning en twis in sy gesin veroorsaak het. Maar ons sal ook sien hoe die God van belofte nie toelaat dat iets in die pad van sy wil staan nie, nie eens ons oënskynlik heldhaftige pogings om onsself te red nie.


Gebed

Vader God, U alleen is die Beloftehouer. Ek het berou oor my voortdurende pogings om u wil te bewerkstellig. Help my in my ongeloof! Help my om op U te vertrou en nie op my eie begrip te steun nie. U alleen weet wat die beste vir my is. Ek kies om U vandag te vertrou. Amen. 



Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Geloof Bo Volmaaktheid

Wat vra God van ons? Dis ‘n vraag waarmee ons almal worstel. Al wat God vra is dat ons glo. "Geloof Bo Volmaaktheid" ondersoek die geloofslewens van Abram (later Abraham genoem) en sy seun Isak. Hulle was nie volmaak nie. Daar was talle oomblikke toe hulle dade nie met hulle geloof gestrook het nie. Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken. (Genesis 15:6)

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/