'n Beter WegVoorbeeld
Rustige Ritmes van Genade
Ontneem die tempo van die lewe jou van jou vrede? Dink terug oor die afgelope week. Hoeveel keer was jy haastig — het jy van die een ding na die volgende gejaag, nie in staat om teenwoordig te wees by die mense om jou nie? Hoeveel kere het jy gesê: "Dit gaan goed, ek is net besig," wanneer mense vra hoe dit met jou gaan?
Ons gejaagde tempo sal nooit 'n hart van vrede oplewer nie, ons bly dus in 'n siklus van bedrywigheid, spanning en om oorweldig te wees. Jesus het egter gekom om ons 'n beter weg aan te bied.
Laat ons duidelik wees: Jesus se weg is nie maklik nie, maar dit is nie bedrywig nie — kyk gerus na sy lewe.
Jesus se openbare bediening het eers begin toe Hy 30 jaar oud was. Volgens ons standaarde sou ons dink dat dit 'n stadige begin was. Die eerste ding wat Jesus gedoen het was om gedoop te word, en voor Hy enige wonderwerke verrig het, het Hy motivering van sy Vader verkry:
"… Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My" Matteus 3:17.
Na daardie ongelooflike oomblik, was dit steeds nie tyd vir 'n wonderwerk nie. Jesus het daarvandaan vir 40 dae na die woestyn gegaan.
Sy sending was dringend, maar sy optrede was geduldig. Na Jesus begin het om wonderwerke te doen en die skare te onderrig, het Hy nog steeds die tyd afgestaan om Hom na stil plekke te onttrek om te rus. Sien Lukas 5:
"Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid" Lukas 5:15-16.
As Jesus — die Seun van God — geweet het Hy het tyd saam met sy Vader nodig, hoeveel te meer ons?
Ons — net soos Jesus — moet 'n gewoonte kweek om vir God ons beste te gee terwyl ons Hom ook vertrou om te kan rus. Jesus gee hierdie uitnodiging in Matteus 11:28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee."
Ons is nie geskape om voltyds besig en belas te wees nie. Ons het egter 'n keuse.
Ons kan voortgaan om ons bedrywigheid as 'n bron van selfbelang te gebruik, wat na 'n lewe gevul met spanning en strewe lei. Of ons kan ons bedrywigheid sien as 'n uitnodiging om God se gawe van rus te aanvaar deur ons kommer aan Hom oor te gee.
Jy hoef nie enigiets aan jou Skepper te bewys nie. Jy hoef nie sy goedkeuring te wen of te kompeteer vir sy aandag nie.
Dit is tyd om ons gejaagdheid oor te gee en 'n pas van vrede en genade te aanvaar.
Bid: Vader, ek besef ek het teen 'n onvolhoubare tempo geleef. Dit het my gespanne en oorweldig laat voel. Ek wil u beter weg vir die lewe aanvaar. Help my om u gawe van rus te aanvaar en wys my hoe om vry van gejaagdheid, bedrywigheid en strewe te leef. Ek vertrou U in alles. In die Naam van Jesus. Amen.
Toepassing: Verbind jouself om elke dag vyf minute in stilte te luister na wat God vir jou wil sê.
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gevoel, ongeag hoeveel dinge jy reg doen, dat dit altyd die verkeerde resultate oplewer? Dalk probeer jy met God kontak maak, maar jy voel of jy verder van Hom is as ooit tevore. As jy op die punt van ineenstoring is, is hierdie 7-dagleesplan, gelei deur Pastoor Craig Groeschel, beslis vir jou. Die tyd het aangebreek om nie langer vir Jesus te werk nie, maar eerder in Jesus se weg te wandel.
More