In Jesus Is Jy...Voorbeeld
In Jesus Is Ek Geregverdig/Vrygespreek
Lees: Romeine 5:1–2
SOAP: Romeine 5:1–2
“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.”
Oordenking
Die woordeboek definieer 'regverdig' as moreel reg of geregverdig. Ons regverdig ons optrede deur ons motiewe te verduidelik, of hoe dit tot 'n positiewe uitkoms gelei het. Ons regverdig die geld wat ons spandeer of die ekstra sny koek of die feit dat ons op vakansie gaan deur te probeer bewys dat ons dit nodig het of verdien.
Wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanneem, Hom vra om ons sondes te vergewe en ons lewens aan Hom toewy, word ons regverdig verklaar. Alles wat ons van God geskei het, word bedek deur Jesus se offer aan die kruis. Ons word nie net nuut gemaak nie, maar ons word herstel voor God.
In die vroeëre hoofstukke van Paulus se brief aan die Romeine het hy ons behoefte aan redding verduidelik en hoe ons redding kan ontvang. In hoofstuk 5, waar ons Skrifgedeelte vandag begin, ondersoek Paulus die voordele wat ons ontvang as gevolg van ons redding.
Vrede. Wanneer ons herstel word voor God deur Jesus Christus, ervaar ons die vrug van vrede. Vrede help ons om met selfvertroue te leef en op te tree as gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het. Hierdie vrede en vertroue is nie gebaseer op ons omstandighede of wat ons kan bereik nie, maar is werklik en blywend en kom slegs van Jesus af.
Toegang. Layman's New Testament Bible Commentary merk op dat die woord wat vir 'toegang' gebruik word, nie bloot 'n oop deur is waar ons deurloop nie, maar 'verwys na iemand wat in die teenwoordigheid van koninklikes ingelei word, of 'n skip wat die beskerming van 'n veilige hawe invaar.' As ons herstel word voor God, word ons in 'n plek van beskerming, rus en veiligheid gebring.
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U my so liefhet dat U vir my 'n manier skep om herstel te word voor U. U maak my nuut, U vergewe my, en U maak 'n weg sodat ek in vrede voor U kan verskyn en rus kan vind. Here, ek loof U en het U lief. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wie is ek? Waarom is ek hier? Maak ek saak? As ons nie weet wat ons identiteit is nie, kan ons nie leef soos ons bestem is om te leef nie. Ons kan probeer om ons identiteit deur ons gesin, loopbaan, vriende, stokperdjies of nasionaliteit te definieer. In hierdie studie gaan ons fokus op die waarheid wie ons in Christus is en daardeur ons ware identiteit verstaan.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://LoveGodGreatly.com