My Allerbeste Vir Sy HoogsteVoorbeeld

My Allerbeste Vir Sy Hoogste

DAG 5 VAN 10

PLAAS GOD EERSTE

Plaas in die eerste plek jou vertroue in God. Ons Heer het nooit sy vertroue in ’n ander mens geplaas nie. Tog was Hy nooit agterdogtig of bitter nie, en Hy het ook nooit iemand as ’n hopelose geval beskou nie, want Hy het in die eerste plek sy vertroue in God gestel. Hy het volkome vertrou op wat God se genade in ander kan doen. 

Indien ek my vertroue in die eerste plek in mense plaas, sal die eindresultaat wees dat ek wanhoop ervaar en ’n gevoel van hopeloosheid met betrekking tot almal om my. Ek sal verbitterd raak omdat ek daarop aangedring het dat mense word wat geen mens nog ooit kon wees nie: absoluut volmaak en korrek. Moet nooit in enigiets op jouself of op enigiemand anders vertrou nie, vertrou slegs op die genade van God.

Plaas die wil van God eerste. “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen” (vgl. Heb. 10:9).

’n Persoon is gewoonlik gehoorsaam aan dit wat hy as ’n behoefte ervaar; ons Heer se gehoorsaamheid was aan die wil van sy Vader. Die oproep tot die stryd vandag is: “Kom, spring aan die werk! Die heidene sterf sonder God; ons moet uitgaan en hulle van Hom gaan vertel.” Maar ons moet eers seker maak dat God se “behoeftes” en sy wil in ons persoonlik verwesenlik word. Jesus het gesê: “Bly totdat julle met krag van bo toegerus is” (Luk. 24:49). Die doel van ons Christelike opleiding is om ons in die regte verhouding te bring met God se “behoeftes” en sy wil. As God se “behoeftes” in ons eers verwesenlik is, sal Hy vir ons die pad oopmaak om sy wil te volbring en sy “behoeftes” elders te vervul.

Plaas die Seun van God eerste. “En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My” (vgl. Matt. 18:5). God het as ’n baba gekom, en Homself so aan my gegee en toevertrou. Hy verwag dat my persoonlike lewe ’n “Betlehem” moet wees. Laat ek toe dat my natuurlike lewe stadig maar seker getransformeer word deur die inwonende lewe van die Seun van God? God se hoogste doel is dat sy Seun in my gestalte sal aanneem.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

My Allerbeste Vir Sy Hoogste

Ons sê ons vertou op God, maar daar is tog soveel om ons oor te bekommer! Oswald Chambers deel ’n ander perspektief met ons: “Dink daaraan hoe onnodig en oneerbiedig dit is dat jy jou bekommer.” Sjoe! Oswald moedig jou aan om te onthou God weet wat Hy doen. Kweek vandag ’n gesindheid van diepe afhanklikheid en vertroue op God. Hierdie leesplan is saamgestel uit MY ALLERBESTE VIR SY HOOGSTE.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za