My Allerbeste Vir Sy HoogsteVoorbeeld

My Allerbeste Vir Sy Hoogste

DAG 2 VAN 10

“TREK WEG” IN AFHANKLIKHEID

Het jy al ooit op hierdie manier “weggetrek”? Indien wel, sal jy weet dat daar nie ’n logiese antwoord is wanneer iemand jou sou vra wat jy doen nie. Een van die moeilikste vrae om te beantwoord in ons arbeid vir Christus is: “Wat beplan jy om te doen?” Jy wéét nie wat jy gaan doen nie. Al wat jy weet, is dat God weet wat Hy doen. Ondersoek jou verhouding met God voortdurend om te bepaal of jy gewillig is om op elke terrein van jou lewe “weg te trek” en Hom onvoorwaardelik te vertrou. Dít is die gesindheid wat jou in gedurige afwagting sal laat leef omdat jy nie weet wat God volgende gaan doen nie. 

Elke oggend wanneer jy wakker word, is daar vir jou ’n nuwe geleentheid om “weg te trek” en jou vertroue in God te verstewig. “ … Moet julle nie bekommer oor julle lewe … of oor julle liggaam … nie” (Luk. 12:22). Met ander woorde, moet jou nie meer bekommer oor dié dinge waaroor jy bekommerd was voordat jy “weggetrek” het nie.

Het jy vir God gevra waarmee Hy besig is in jou lewe? Hy sal dit nooit vir jou sê nie. God vertel ons nie wat Hy gaan doen nie; Hy openbaar wel aan ons wie Hy is. Glo jy in ’n wonderwerkende God? Is jy bereid om “weg te trek” in algehele, onvoorwaardelike oorgawe aan Hom totdat jy by die plek kom waar niks wat Hy doen jou meer verbaas nie?

Glo altyd dat God dié God is wat jy leer ken het in daardie oomblikke van intieme samesyn. Dink dan daaraan hoe onnodig en oneerbiedig dit is dat jy jou bekommer. Kweek doelbewus ’n gesindheid aan van voortdurende gewilligheid om “weg te trek” in diepe afhanklikheid van God. Jou lewe sal dan ’n heilige en onuitspreeklike bekoring uitstraal wat Jesus sal behaag. Jy sal moet leer om “weg te trek” van jou eie oortuiging, belydenis en ervaring totdat jy by daardie plek in jou geloofslewe kom waar daar niks meer tussen jou en God staan nie.


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

My Allerbeste Vir Sy Hoogste

Ons sê ons vertou op God, maar daar is tog soveel om ons oor te bekommer! Oswald Chambers deel ’n ander perspektief met ons: “Dink daaraan hoe onnodig en oneerbiedig dit is dat jy jou bekommer.” Sjoe! Oswald moedig jou aan om te onthou God weet wat Hy doen. Kweek vandag ’n gesindheid van diepe afhanklikheid en vertroue op God. Hierdie leesplan is saamgestel uit MY ALLERBESTE VIR SY HOOGSTE.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za