Vreugde Vir VandagVoorbeeld

Vreugde Vir Vandag

DAG 2 VAN 5

Gee wat jy kan en doen wat reg is

Ja, jy is vrygewig. Jy gee van jou tyd en geld om mense wat in nood is te help. Jy gee vir jou vriende raad as hulle daarvoor vra en jy bid voortdurend vir hulle. 

Hierdie teksvers fokus op wat gebeur wanneer jy vrygewig en ruimhartig optree. Wanneer jy gee, ontvang jy volgens hierdie vers ook iets terug – met ander woorde, jou aksie het ook ’n reaksie. Wanneer ons vrygewig is met mekaar, is God ook vrygewig met ons. 

Natuurlik is die bedoeling nie dat jy moet gee sodat jy kan ontvang nie, maar God wil nogtans hê jy moet iets terugkry in ruil vir wat jy gee. Hy wil vir jou die rykdom gee van vriendskap en verhoudings met mense in jou huis, by jou werk en in jou woonbuurt. Hy wil hê jy moet al hoe meer van sy liefde en genade ontvang. Loof God vandag vir alles wat Hy vir jou gegee het. Dit sal jou hart met blydskap vul en jou gees vernuwe.

Jy is die antwoord. Jy is die antwoord vir die mens wat ’n glimlag nodig het, of ’n vriendelike woord, of ’n teken van medemenslikheid. Jy is die een wat kan uitreik en die somber atmosfeer kan verbreek. Hoe is dit moontlik? 

Want jy is ’n kind van die Here, iemand wat weet dat God alles ten goede laat meewerk. Jy is iemand wat geleer het hoe om goed te doen aan ander – en Hy het jou nodig om sy glimlag, sy sprankie hoop vir die mense rondom jou te wees. 

Jy doen gedurig goeie dinge omdat jy dit vir God wil doen en omdat Hy ’n stukkie van sy liefde in jou hart geplaas het om met ander mense te deel. Hoe meer jy dit deel, hoe meer het jy om te gee. Om die waarheid te sê, God sal seker maak dat jou hart oorloop van sy goedheid en liefde en dat jy nooit sal gebrek ly aan dít wat Hy vir jou wil bied nie. 

Vandag kan jy moed skep, want jy doen wonderlike werk met liefde en nederigheid. Gaan doen goeie dinge, want God het sy liefde in jou hart geplaas. As jy dit doen, sal jou dag niks anders as fantasties wees nie.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Vreugde Vir Vandag

Vreugde vir vandag se oordenkings nooi jou om jou kommer en sorge elke dag aan die Vader se voete neer te sit. Vind jou hoop en vreugde in Jesus Christus. In sy krag kan jy enige uitdaging oorkom – solank jy vashou aan Hom en sy beloftes. Laat God jou anker wees en vind jou vreugde in Hom. Hy wil vir jou goed wees en sy seën oor jou uitstort.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://cumbooks.co.za