Kyknet Lydenstyd Gids 2022Voorbeeld
“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Matt. 6:31-33
Eens het ‘n pelgrim die lang reis onderneem op soek na vrede, vreugde en liefde. Die moeë pelgrim het baie kilometers geloop en tyd het verbygegaan. Geleidelik het sy jong, lewendige treë stadiger en moeisamer geword.
Sy reis het hom deur landskappe geneem wat nie altyd maklik was nie.
Deur oorlog. Deur siekte. Deur rusies en verwerpings en teleurstellings.
‘n Land waar dit lyk asof hoe méér mense besit, hoe oorlogsugtiger word hulle — hoe meer hulle moes verdedig, hoe meer moes hulle mekaar aanval.
Met ‘n verlange na vrede, maak hulle gereed vir oorlog. Met ‘n verlange na liefde, beskerm hulle hulself met hoë mure van wantroue en van vrees. Met ‘n verlange na die lewe, loop hul dieper die dood binne.
Maar een oggend kom die pelgrim by ‘n klein huisie langs die pad. Iets van hierdie klein huisie het sy aandag getrek. Dit was asof dit van binne verlig was. Uit nuuskierigheid het hy ingegaan. In die huisie was ‘n klein winkeltjie en agter die toonbank, ‘n winkelier.
Dit was moeilik om te sê hoe oud die winkelier is, moeilik om te sê of dit ‘n man of ‘n vrou is. Daar was ‘n misterie en tydloosheid aan die plek.
“Wat wil jy hê?” vra die winkelier vriendelik.
“Wat het jy hier?” vra die pelgrim.
“O, ons het al die dinge hier waarna jy die meeste verlang,” antwoord die winkelier, “Sê my net wat jy wil hê.” Die pelgrim het skaars geweet waar om te begin. So baie begeertes en verlange kom dadelik in sy gedagtes op.
“Ek wil vrede hê — in my eie familie, in my geboorteland en in die hele wêreld. Ek wil iets goeds van my lewe maak. Ek wil hê dat díe wat siek is weer gesond moet word en díe wat eensaam is, vriende kry. Ek wil hê dat díe wat honger is, genoeg kos het om te eet. Ek wil hê dat elke kind wat vandag op hierdie planeet gebore word, die geleentheid kry om opgevoed te word. Ek wil hê dat almal op aarde in vryheid moet leef. Ek wil hê dat hierdie wêreld ‘n koninkryk van liefde moet wees.”
Daar was ‘n stilte nadat die pelgrim hierdie inkopielys opgenoem het.
Die winkelier begin saggies praat. “Ek is jammer,” kom die sagte antwoord. “Ek moes verduidelik het. Ons voorsien nie die vrugte hier nie. Ons voorsien net die sade.”
Here, help my om die warboel van my lewe uit te sorteer,
om myself in die rigting van eenvoud te skik.
Here, leer my om na my hart te luister;
leer my om verandering te verwelkom, in plaas daarvan om dit te vrees. Here, ek gee aan U hierdie roeringe in my binneste,
Ek gee my ontevredenheid aan U,
Ek gee my rusteloosheid aan U,
Ek gee my twyfel aan U,
Ek gee my wanhoop aan U,
Ek gee aan U al die hunkeringe in my binneste.
Help my om na die tekens van verandering, van groei te luister; om ernstig te luister en te volg waar hulle my lei
deur die asemrowende leë ruimte van 'n geopende deur.
Keltiese Daaglikse Gebed (uit Engels vertaal)
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Welkom op die Lydenstydreis. Tydens hierdie ervaring word jy genooi na ‘n paar ontwakings. Die doel van die reis is om te ontwaak tot die lewe. Lewe is God en lewe is saam met God. Ons gaan fokus op die ontwaking van myself, verlange, die lewe, vriendskap en roeping.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.mosaiek.com